Oud-adjunkhoof van EHS oorlede
Hy was ’n gewilde opvoeder wat die agting van sy kollegas, die ouers en leerders geniet het.

’n Bekende voormalige adjunkhoof van Hoërskool Ermelo, mnr. Martin Mulder (81), is Sondag 2 Maart aan sy woning in Pretoria oorlede.
Mnr. Mulder het die vrugte gepluk van sy toewyding van byna ’n halwe leeftyd aan die onderwys.
Hy was van 1958 tot einde 1974 as Wetenskaponderwyser aan die EHS verbonde.
Die laaste jare was hy adjunkhoof.
In 1975 is hy as hoof van die Hoërskool Overkruin in Pretoria aangestel. Einde 1983 is hy tot superintendent van onderwys bevorder, ’n pos wat hy tot met sy aftrede in 1992 beklee het.
Hy was een van minstens sewe onderwysers wat in hoofposte aangestel is terwyl hulle as adjunkhoofde onder die legendariese Errie-hoof, mnr. A.B.K. van Zijl, gedien het.
As onderwyser was mnr. Mulder ’n groot steunpilaar van die EHS.
Hy het ondermeer die eerste rugbyspan van 1963 to 1967 afgerig en ook sy stempel op ander terreine afgedruk.
Hy was ’n gewilde opvoeder wat die agting van sy kollegas, die ouers en leerders geniet het.
Tot aan die einde van sy lewe het hy sy bande met die EHS behou deur getrou die skool se reünies by te woon.
Hy word oorleef deur sy vrou, Margie (Brummer), met wie hy 55 jaar getroud was, twee getroude seuns, Reinhard en Wim, en ’n getroude dogter, Hilda, asook agt kleinkinders. (CK)