‘Ons gaan jou mis, mnr. Bok’
Dis Maandagoggend by Hoërskool Ermelo, maar nie ’n gewone Maandag nie.

Dis Maandagoggend by Hoërskool Ermelo, maar nie ’n gewone Maandag nie.
Die vlae hang halfmas en ’n somber atmosfeer heers in die ouditorium.
Mnr. Bok is dood.
Ds. André Vermeulen lei die opening in die ouditorium en bring hulde aan die Erries se hoof, mnr. Bok Martins, wat Vrydag onverwags oorlede is.
Die hoofgedagte in sy woorde van vertroosting is mnr. Martins se opregte Christenskap: “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo (Rom. 1:16).
Ná die opening vorm die hartseer leerders groepies op die grasperk voor die Kunstesentrum, troos mekaar en praat oor ’n wonderlike hoof wat ’n groot leemte laat.
Mnr. Martins, wat vier jaar hoof van die EHS was, en sy eggenote van 27 jaar, Annemie, het op universiteit ontmoet en sy het dadelik geweet hy is haar maat toe sy gesien het hoe hy met ’n klein kindjie op sy nek in die straat stap en sy sy liefde vir kinders ervaar het.
Later is drie kinders uit hul huwelik gebore, eerste die tweeling, Nico en Annerie (20), en ’n paar jaar later, Ferdi, ’n gr. 10-leerder aan die EHS.
Annemie beskryf haar man as ’n wonderlike pa wat alles vir sy kinders sou gee. Hy was altyd ondersteunend en betrokke by hul lewens.
Sy vertel dat sy passie in die lewe was om ander mense te bemagtig en om hulle tot hul volle potensiaal te bring sodat hulle weer ander se potensiaal kan ontgin.
“Hy was altyd aan die gang, kon nooit vir iemand nee sê nie en het alles ingedruk om almal tevrede te kan stel,” het Annemie gesê.
“Ek verstaan nou hoekom hy altyd so besig moes wees. Hy het net die 50 jaar wat die Here hom toegelaat het, gehad om alles te doen.”
Hoërskool Ermelo het Vrydag hul ope-dag gehad en wat mnr. Martins gesê het, sal die Erries lank bybly.
“Ons ouers vertel ons altyd van die hemel met sy goue strate wat so ’n wonderlike plek is. Die EHS is net so onderkant die hemel en ek het elke Errie wat in hierdie ouditorium sit, lief.”
Die Erries het hom ook liefgehad, het Hyde Mpheti (gr. 12) gesê: “He was a peaceful person who always calmed situations down. He was the best principal by far; I’m not sure how we will be able to replace him.”
Mariska Venter (gr. 12) het gesê sy gaan altyd sy smile mis.
“He told us our school is on the stairway to heaven. He spoke of heaven as if he’s been there,” was die woorde van Sinqobile Mkwanyana (gr. 10).
Christiaan du Plooy (gr. 11) het gesê hy het na mnr. Martins opgekyk. “Hy het goeie waardes gehad en positiewe denke oorgedra; hy’s legend.”
Hoofdogter Carla Delport is dankbaar dat mnr. Bok hulle geleer het van vrede en geluk in die lewe en dat hulle dit sal bereid slegs deur hul volle lewe vir Jeus te gee.
JT Erlank, hoofseun, sal die hoof onthou vir die rustige aura wat hy om hom gehad het.
Plakkate met sommige van mnr. Martins se gereelde woorde was Maandag teen die mure by die ingang van die skool aangebring. Die boodskappe daarop van leerders getuig van hul respek, liefde en dankbaarheid teenoor hul ontslape hoof.
Mnr. Martins laat sy vrou, drie kinders, twee broers en ’n suster agter.
’n Roudiens vir die leerders en gemeenskap is Woensdagaand by die kruis wat deur mnr Martins opgerig is, gehou en ’n begrafnisdiens vir vriende en familie vind Vrydag om 13:00 in die NG Moedergemeente plaas.