Ongelukke eis drie lewens
Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat ’n vragmotorbestuurder deur sy eie vragmotor doodgery is.

Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat ’n vragmotorbestuurder deur sy eie vragmotor doodgery is.
Polisiewoordvoerder op Ermelo kapt. Carla Prinsloo het gesê die voorval het verlede Woensdag by die Camden-kragstasie gebeur, nadat die bestuurder sy voertuig agter in ’n ry vragmotors geparkeer en uitgeklim het om te rook.
Die vragmotor het vorentoe begin beweeg en hy het probeer om dit tot stilstand te bring. Hy het voor die kajuitgedeelte beland en is teen die voorste vragmotor vasgepen.
Hy is op die toneel dood verklaar.
Een inssittende is verlede Donderdag dood en nog een ernstig beseer in ’n botsing reg van voor op die pad tussen Ermelo en Hendrina.
Volgens kapt. Carla Prinsloo het die ongeluk omstreeks 14:00 sowat 4km buite die dorp gebeur.
Die bestuurder van ’n Volkswagen Polo, me. Jacomina Fredrika Britz (51) van Middelburg, het ernstige beserings opgedoen en is op die toneel deur paramedici behandel. Sy het kort daarna in die Mediclinic Ermelo beswyk.
Die bestuurder van die Mercedes wat in die botsing betrokke was, is ook ernstig beseer en in die Mediclinic Ermelo opgeneem. Haar toestand was teen druktyd onbekend.
’n Saak van stafbare manslag word ondersoek.
In nóg ’n voorval is ’n voetganger op dieselfde pad dood nadat hy deur ’n voertuig raakgery is.
Na wat verneem word, wou die voetganger, Daniel Vilakazi (47), die pad oorsteek en het in die middel van die pad gestaan. Volgens die bestuurder van die voertuig, ’n goud-kleurige Hyundai Matiz, het Vilakazi verder begin loop en voor die voertuig beland.
Hy ernstige kopbeserings opgedoen en is op die toneel dood.
In al drie voorvalle word ooggetuies gevra om met die ondersoekbeampte, konst. M.L. Mkwanazi, in verbinding te tree by 017 919 2321 of 082 373 8389.



