Yvonne ontferm haar oor nagvlieërs
Noem die woord vlermuis en mense dink dadelik aan donker, boos, vreesaanjaende skepsels wat jou bloed wil uitsuig. Een mens wat weet dat dít ver van die waarheid is, is Yvonne Venter van Breyten.

Yvonne ontferm haar oor vlermuise wat uit hul neste geval het en versorg hulle tot hulle sterk genoeg is om te vlieg.
Alles het vyf jaar gelede begin toe Yvonne ’n baba-vlermuis wat uit die nes geval het van ’n klomp rooimiere gered het.
Nadat sy al die miere van die vlermuis verwyder het, het sy besef dat sy kans op oorlewing nie goed was nie en sy ’n hand moes bysit.
Sonder enige kennis van dié klein soogdiertjies, het Yvonne dadelik op die Internet begin navors oor hulle gewoontes.
So het sy die babatjie grootgemaak tot die dag dat hy reg was om te vlieg.
“Ek het lief geword vir die kreatuurtjie en het geweet dat ek van toe af my tyd aan hulpelose vlermuise sou wy,” vertel Yvonne.
“Al die ouvrou-stories oor vlermuise is bog. Die oumense wou die kinders net in die huis gehad het en het die kinders net met die vlermuise gedreig,” antwoord Yvonne ’n vraag oor die mites rondom dié gediertes.
Die onkundige opvattings oor vlermuise het daartoe gelei dat hulle nie juis gewild is nie.
Yvonne het ’n paar interessante feite oor vlermuise gedeel.
Al gebruik vlermuise sonar gedurende vlug, is hulle nie blind nie.
Dit is hoogs onwaarskynlik dat ’n vlermuis in jou hare verstrengel sal raak, omdat hulle maklik voorwerpe gedurende vlug vermy.
Vlermuise val nie mense aan nie en dra baie min siektes soos hondsdolheid.
Hulle help die menseryk deur insekte te eet en plante te bestuif, en is dus ’nboer se beste vriend.
Vlermuise kan dalk ’n probleem skep wanneer hulle in jou dak woon, maar dit is teen die wet om hulle te vergiftig. Dit is nodig om professionele mense te kry wat die vlermuise veilig kan verwyder.
Yvonne sê dat jy bloot ’n deur hoef oop te maak as ’n vlermuis in jou huis invlieg.
“Gee hom net kans om sy rigting te vind en hy sal self uitvlieg, maar soms word hulle net moeg en soek ’n plek om te rus.”
Vlermuise word in twee groepe verdeel, naamlik vrugte-etend en insek-etend.
Die vlermuise waaroor Yvnne haar ontferm, is insek-eters en is skaars 5cm lank as hulle volgroeid is.
Volgens Yvonne kan ’n vlermuis tussen 500 tot 1000 muskiete in ’n uur eet.
Op ’n tafel, toegevou in twee handdoeke, is ’n baba-vlermuis en twee groteres reg vir voertyd.
Yvonne haal ’n bak vol super-wurms uit, breek die kop af en sit dit in baba-vlermuis se mond wat rustig aan dié lekkerny begin suig.
Volgens Yvonne is hulle gereed om te vlieg sodra hulle ’n hele wurm opeet. Dan sit sy hulle buitekant in hul handdoek neer en as hulle gereed is, sal hulle uitkruip en vlieg.
Van Oktober tot Februarie is dit “baba-tyd” vir die vlermuise. Yvonne vertel dat hulle maklik vir harde geluide skrik en dan val die kleintjies van hul ma’s af.
As hul eers van hul ouers geskei is, is die kans op oorlewing baie klein. Hulle word die prooi van roofdiere of mense trap hulle uit onkunde dood.
“Elke keer wat jy ’n vlermuis doodtrap, is dit so goed jy trap ’n hond dood,” sê Yvonne.
Sy vertel ook dat as die vlermuise saans begin vlieg en sy staan buite en roep “Babatjies”, dié wat sy grootgemaak het naby haar kom verbyvlieg.
Volgens Yvonne is dit onmoontlik om hulle as troeteldiere aan te hou, omdat hulle maar skamerig is en die donker verkies. Tog glo sy dat hulle weet dat sy na hulle omgesien het.
Yvonne se droom is om mense in te lig oor vlermuise en hulle sodoende minder negatief oor die vredeliewende, vlieënde soogdiertjies te maak.
Sy gesels graag oor dié diertjies en hoop om meer betrokke te raak by opvoedkundige praatjies by skole.
Yvonne hoop ook om binnekort growwe hout te bekom om vlermuiskaste in veilige gebiede op te rig.
Haar raad aan mense wat ’n baba-vlermuis kry wat uit die nes geval het, is: “Tel hom op (hy byt nie) en sit hom op ’n muur waar sy ma hom weer kan optel. Maak net seker dis buite bereik van roofdiere. Anders, bel my; moet assebleif net nie die arme diertjie doodtrap nie.”
Mense wat Yvonne se hulp benodig of met haar oor vlermuise wil gesels, kan haar by 082 582 2796 skakel.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 2667A726




