Boere trek plaasaanvallers vas
Vier verdagtes wat vermoedelik in 'n gewapende plaasaanval in die Memel-distrik betrokke was is deur boere vasgetrek.
Vier verdagtes is Sondag deur boere in Memel vasgetrek ná ’n gewapende plaasaanval op’n egpaar van die distrik.
Inligting dui daarop dat ’n onbekende aantal mans die egpaar, Jaco en Bessie Maritz, op hul plaas aangehou en beroof het toe hulle Sondag omstreeks 11.30 van ’n kerkdiens af teruggekeer het.
Die aanvallers het wapens en persoonlike besittings buitgemaak en met die egpaar se Toyota-dubbelkajuitbakkie gevlug.
Nadat daar alarm gemaak is, het lede van verskeie plaaswaggroepe’n uitgebreide soektog geloods.
Die voertuig is later verlate op die pad tussen Memel en Vrede gevind vanwaar die aanvallers vermoedelik verder met hul eie voertuig, ’n Toyota RunX, gevlug het.
Die vier verdagtes is omstreeks 14:30 in Memel vasgetrek, nadat boere verskeie paaie in en om die dorp toegemaak het. Nog twee verdagtes het daarin geslaag om te vlug.
Al die gesteelde wapens en goedere asook twee ongelisensieerde wapens waarvan die reeksnommers afgevyl is, is in die verdagtes se voertuig teruggevind.
Mnr. Henry Geldenhuys, voorsitter Veiligheid TLU SA wat nou betrokke was met die beheer van die soektog na die verdagtes, het die boere geloof vir hul deelname aan die soektog asook hul bereidwilligheid om betrokke te raak.
“Hierdeur is bewys dat deur saam te staan en betrokke te raak, kan ons meer suksesse soos dié behaal,” het hy gesê.



