Local newsNews

Rotariërs gee regtig om

Marinda, ’n tuisbly-ma van twee tieners, is in Desember verlede jaar met adenoïde sistiese karsinoom gediagnoseer.

 

 

Vir Marinda Malan en haar man, Marius, van Ermelo het die finansiële druk van ‘n komende operasie swaar op hul skouers gerus.
Die koste van die operasie en die hospitaalverblyf daarna beloop minstens R60 000 en die gesin het moeilike tye in die gesig gestaar.
Toe lede van die plaaslike Ermelo Phoenix Rotariërs van Marinda se verknorsing te hore kom, het hulle aan die werk gespring en ‘n plan gemaak om geld in te samel.
Hulle het ‘n skaap deur ‘n skenker bekom en as ‘n prys in ‘n gelukkige trekking aangebied.
Marinda het die wenkaartjie, wat deur Khiaan Maharaj gekoop is, verlede Donderdag tydens ‘n byeenkoms van die Rotariërs getrek.
Die bykans R30 000 wat deur middel van kaartjieverkope ingesamel is, is aan Marinda geskenk en sal hul geldelike las aansienlik verlig.
Marinda, ‘n tuisbly-ma van twee tieners, is in Desember verlede jaar met ‘n seldsame kanker van die mond, adenoïde sistiese karsinoom, gediagnoseer en sy ondergaan Maandag ‘n delikate operasie in die Kloof-hospitaal in Pretoria om te keer dat die kanker versprei.
Die operasie behels dat daar aan die harde en sagte verhemelte gesny word om die aangetaste dele te verwyder. ‘n Plaatjie word dan in plek geplaas om die verhemelte te vervang.
Dié delikate prosedure word binne die mond uitgevoer en die moontlikheid bestaan dat daar ook van buite die gesig geopereer moet word om die aangetaste dele te bereik.
‘n Bewoë Marinda het haar dank en waardering teenoor die Rotariërs uitgespreek en ook aan almal wat kaartjies vir die prystrekking gekoop het.
“Aan almal wat my bystaan, my gesin, my familie, vriende en vreemdelinge en almal wat kaartjies gekoop het, wil ek innig dankie sê. Dankie is so ‘n klein woordjie, maar ek bedoel dit opreg.
“Ook aan die Ermelo Phoenix Rotariërs kan ek nie genoeg dankie sê nie. Ek is heeltemal oorbluf. Wat julle vermag het, is absoluut wonderlik. Ek is uit my hart uit dankbaar vir elkeen se moeite en omgee.”
‘n Optrede deur die sanger Piet Pompies ten bate van Marinda word vanaand (Vrydag) om 18:00 by Ermelo Toyota gehou.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button