Só help mens jou medemens
Christoff woon in ’n sinkhuis in ’n informele nedersetting buite Ermelo. Sy bure en ’n rolstoel-atleet van Ermelo, Anton Franken, het hul oor hom ontferm.
‘n Verhaal van naasteliefde en omgee van iemand wat dit self nie maklik het nie, speel tans in Ermelo af.
Dit is ‘n verhaal wat mens diep raak.
Anton Franken, ‘n bekende motiveringspreker van Ermelo, het onlangs ‘n oefenrit met sy aangepaste fiets onderneem, toe ‘n vreemdeling hom langs die pad voorgekeer het.
Anton het albei sy bene in ‘n ongeluk tydens sy militêre diensplig verloor, maar is bekend daarvoor dat hy nie toelaat dat dit hom onderkry nie.
“Ek het met my fiets gery en hy het my voorgekeer en gevra of ek die Anton is oor wie daar soms in die koerante geskryf word. Ek het hom na my huis genooi en ons het begin gesels. Toe kom dit uit dat die man, Christoff Nagel, in ‘n sinkhuisie in ‘n informele nedersetting op Ermelo bly. Hy is glo al ongeveer twee jaar op Ermelo.
“Ek het my toe oor hom ontferm en van tyd tot tyd met kos gehelp en waar ek anders kon, maar soms gaan dit ook maar broekskeur met my en dit het vir my moeiliker begin word om hom ook van kos te voorsien.
Ek kon egter nie langer toekyk dat die man swaarkry nie en het ‘n beroep vir hulp op lesers van ‘n sosialemediablad gedoen as ‘n moontlike uitweg. Mense het my dadelik begin skakel en ons kon hom na behore begin help,” het Anton vertel.
Die reaksie op Anton se versoek was tot dusver oorweldig-end en die gemeenskap het verskeie artikels en kontant geskenk.
“‘n Handelaar op Ermelo het byvoorbeeld ‘n tweeplaat-gasstoof geskenk en ek glo ons sal vir hom ‘n gasbottel kan kry. Mense van sover as Upington het van hulle laat hoor en ‘n bydrae gemaak. Selfs iemand uit Pretoria het my gebel en aangebied om op sy onkoste ‘n baksteenhuis vir Christoff te bou. Dit alles help my om vir Christoff weer aan die gang te kry,” het Anton nederig gesê.
Christoff (42) is in ‘n Vrystaatse dorpie gebore en sy ouers is oorlede toe hy jonk was. Hy het ‘n broer en suster, maar daar is reeds vir etlike jare geen kontak met mekaar nie.
Volgens Anton het Christoff geen formele opleiding nie en het hy al as karwag gewerk. Hy weier om te bedel en is altyd bereid om ‘n los werkie teen vergoeding te doen.
“Hy is baie nederig en betroubaar en het ‘n hart van goud,” het Anton bygevoeg.
Die gemeenskap in die swart woonbuurt is Christoff baie goedgesind en behulpsaam. Hulle deel ook hulle kos met hom. Een van die inwoners van die nedersetting het vir hom die sinkhuisie opgerig wat hy tans teen R350 ‘n maand huur .
“Ek het vir hom by ‘n karwasplek werk gekry met ‘n klein inkomste, maar hy is dankbaar en werk hard. Wat die toekoms inhou, weet ek nie. Ek loop ‘n pad met hom en ondersteun hom nie net met goedere nie, maar ook geestelik. Hy is immers ‘n mens en een van ons,” het Anton gesê.
Anton het Christoff die afgelope naweek opgelaai en hom winkels toe geneem om ‘n paar goedjies te koop.
Anton het sy dank en waardering uitgespreek teenoor almal wat tot dusver gehelp het.
“Mag die Here elkeen van julle seën. Dinge soos dié maak my nederig en dankbaar,” het hy gesê.
Mense wat Anton verder wil help om sy medemens by te staan, kan hom by 071 326 2819 skakel.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 2667A726
WhatsApp – 0748877590





