Local newsNews

Elzé bid vir Ané

"Ek is baie lief vir kinders en die Here het vir my 'n boodskap gegee om na Ané om te sien. Ek wil graag 'n verskil in mense se lewens maak," het Elzé gesê.

As almal mekaar help, sal dit ‘n groot verskil in die wêreld maak. Verskil begin met jou.
Dít glo Elzé Olivier, ‘n gr.10-leerder aan Hoërskool Ermelo.

Elzé se ma het haar vertel van die bure se dogtertjie, Ané Terblanche, wat aan kanker ly en sy het dadelik geweet dat sy vir dié kind moet bid. Later het sy in die Hoëvelder gelees dat die Terblanche-gesin nie net teen die kankerstryd veg nie, maar dat hul vyf-jarige seun, Johan, outisties is.

Dit was een middag toe Elzé by die huis gekom en pienk ballonne en strikke op die bure se hekke en mure gesien het, wat alles werklik vir haar helder geword het. Elzé, wat ‘n geestelike beroep beoog, het dadelik besef dat die Here met haar gepraat het en dat sy die gawe wat Hy vir haar gegee het, moet gebruik.

Sy het nagevors oor die verskillende siektes en besef dat die koste verbonde aan die pasiënte se behandeling astronomies is. Dadelik het sy werk daarvan gemaak om dié gesin by te staan.

Met motivering van haar ma, het Elzé moed bymekaar geskraap en met haar skoolhoof, mnr. Pieter Grobler, gaan praat. Hy het ingestem dat die skool sal help.

Dié projek van die skool sal ná die vakansie hervat word. Sy het ook by mes. Rinda Vosloo en Cea du Plooy van die EHS se Kalisto Lofgroep vir hulp gaan aanklop.

Die Kalisto-groep bid vir Ané en me. Vosloo het haar man, Gerhard, leraar by die NG Moedergemeente, vertel van die Terblanche-gesin.
Saam het die NG gemeente besluit om na die Terblanche’e uit te reik en het ‘n paar weke gelede met spesiale kollektelyste vir pienk ballonnne begin . Sondag het die gemeentelede pienk gedra en ná afloop van die diens en ‘n gebed is honderde ballonne met Ané se boodskap losgelaat.

Al die geld wat ingesamel is, sal in Ané se fonds inbetaal word.

Elzé vertel dat sy met nog ‘n skoolhoof gaan praat het, maar kon ongelukkig nie meer uitbrei oor hul plan om geld in te samel nie. “Ané gee net nie op nie en die gesin bly sterk en stel ‘n goeie voorbeeld vir baie mense,” het Elzé gesê.

Sy vertel ook hoe diep sy geraak is deur dié gesin se onbaatsugtigheid. Toe hulle hoor dat haar oupa op sy sterfbed lê, het Johan, Ané en hul ma vir hulle kolwyntjies gebak en gebid om hulle by te staan in hul uur van nood. Elzé maak dit duidelik dat sy Ané regtig wil help en dat sy dit nie doen om erkenning te kry nie. “Ek is baie lief vir kinders en die Here het vir my ‘n boodskap gegee om na Ané om te sien. Ek wil graag ‘n verskil in mense se lewens maak,” het Elzé gesê.

“Ek wil dankie sê vir juffrou Rinda en juffrou Cea en die Kalisto-groep vir al hulle gebede en is ook baie dank aan meneer Grobler verskuldig vir die bydrae wat die skool gaan lewer.”

Laastens bedank sy ook die NG Moedergemeentelede vir hul oop harte en die groot verskil wat hulle in die Terblanche-gesin se lewens maak.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button