
Oom Frans en tannie San Els groet Ermelo ná 38 jaar.
Albei het diep spore in die gemeenskap getrap en sal beslis ‘n groot leemte laat.
Die egpaar verhuis binnekort na ‘n aftree-oord in Pretoria waar hulle nader aan hul kinders en familie sal wees.
Oom Frans is in Eshowe gebore en het sy skoolloopbaan in Dundee voltooi. Hy was ‘n kranige sportman en spog selfs met ‘n paar Zululand-tenniskampioenskaptitels.
Hy was ook sewe jaar lank skeidsregter by die Pietermaritzburg Rugbyklub.
In 1977 het oom Frans in die pos as sendeling by die NG kerk begin en dit is ook in dié jaar dat hy sy sielsgenoot, tannie San, tydens ‘n toer na Jerusalem ontmoet het.
Tannie San wat haar onderwysdiploma by die destydse Goudstad Onderwyskollege behaal het, het in 1988 ‘n permanente aanstelling by Laerskool Ermelo gekry en was daar werksaam tot met haar aftrede in 2008.
Die egpaar se twee dogters, Chrisna en Sannel, het hul skoolloopbane by die EHS voltooi en het albei nou suksesvolle loopbane.
Sannel het in haar ma se voetspore gevolg en is ‘n onderwyseres in Brits en Chrisna is ‘n geoktrooieerde rekenmeester by die Ouditeur-Generaal.
Tannie San is ook bekend vir haar liefde vir naaldwerk en was baie bedrywig met die herstel van klere vir die vroue van Ermelo.Hoewel oom Frans 14 jaar gelede afgetree het, was hy steeds aktief met sendelingwerk.
Hy het steeds 68 huise drie keer ‘n jaar besoek en sê sendelingwerk is nie altyd maklik nie. Tog beskryf hy dit as ‘n “groot avontuur, ‘n onvergelykbare voorreg en groot plesier om diensbaar te wees”.
Oom Frans is baie dankbaar vir die huisgesinne en sakemense wat hul deure vir hom oopgemaak het sodat hy gereeld werk onder hul werknemers kon doen.
Oom Frans en Tannie San is dankbaar vir die Hemelse Vader se liefde en genade elke dag en hulle groet almal met opregte dank vir die spontane meelewing die afgelope jare.
“Ons bid die Here dat Hy met sy onverminderde liefde en trou vir elke dag en onder alle omstandighede u sal bewaar. Groete in sy Naam,” is Frans en San Els se boodskap aan Ermeloërs.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 2667A726
WhatsApp – 0748877590