Armand sterk tuis aan
"Ek het net sewe maande tyd om reg te kom voor die volgende rugbyseisoen."

Armand Helmuth is verlede Vrydag, bykans ‘n maand ná die motorfietsongeluk waarin hy ernstig beseer en sy boesemvriend Stiaan Schoeman oorlede is, uit die hospitaal ontslaan.
Stiaan is op die ongelukstoneel in Kerkstraat dood verklaar en Armand is in ‘n bedenklike toestand na die hospitaal gehaas.
Armand het onder meer ernstige kopbeserings opgedoen met swelling en bloeding op die brein, sy gewrig op twee plekke gebreek, tande gebreek en twee keer amper sy laaste asem uitgeblaas.
Sy ma, Liesl, vertel dat Armand 10 dae bewusteloos was en van die onsekerheid of hy breinskade opgedoen het, ‘n vraag wat slegs beantwoord kon word as Armand wakker sou word.
Liesl het vir ‘n maand lank langs haar seun se bed gewaak en was elke dag dankbaar vir enige teken van vordering.
Gedurende dié tyd het sy tuisgegaan by die Claassen-gesin in Witbank, “wildvreemde mense wat my in hul huis ingeneem het, hul lewens vir ons ontwrig het en my elke dag heen en weer hospitaal en terug gery het,” vertel Liesl.
Liesl sê sy is innig dankbaar en Roniet, Ben en Drikus Claassen se onbaatsugtigheid lê haar baie na aan die hart.
Met die goeie tyding dat Armand huis toe kon gaan, het
mnr. Japie
Neethling, Stiaan Schoeman se stiefpa, onderneem om Liesl se las ligter te maak en aangebied om hulle terug te bring Ermelo toe.
Mnr. Neethling sê Armand is soos ‘n kind in hulle huis. Armand, wat nie veel van die botsing tussen die motorfiets en ‘n motor kan onthou nie, het met mnr. Neethling se aankoms by die hospitaal gevra hoe dit met Stiaan gaan.
Hulle het besef dat die tyd gekom het om vir Armand van Stiaan se dood te vertel.
Mnr. Neethling is ‘n pastoor en gesels daagliks met Armand vir wie alles omtrent die ongeluk nog baie onwerklik is.
Mnr. Neethling en sy vrou, Rita, vind dit nog baie swaar om Stiaan se dood te verwerk en hoewel baie vrae steeds onbeantwoord bly, dra hulle geen wrok in hul harte nie en het die bestuurder van die motor vrygespreek.
Hy vertel ook hoe dankbaar hy teenoor die gemeenskap is wat saamgestaan om hulle, sowel as Liesl en Armand, by te staan.
Armand het nog ‘n lang pad van herstel wat voorlê. Sy arm is nog in gips en daar lê nog baie werk aan sy mond voor.
“‘n Ruk gelede was hy aan die regterkant verlam, maar vandag stap hy al in die huis rond en eet ons uit die huis uit,” vertel Liesl.
Liesl weet nie waar en vir wie sy moet begin dankie sê nie. Daar is fondse gestig en geld ingesamel, maar sy het geen idee wie almal geld geskenk het nie.
Sy bedank ieder en elk wat ‘n bydrae gelewer het, gebid het en hulle bygestaan het.
Armand het net een doelwit en dit is om aan te sterk. Soos hy sê: “Ek het net sewe maande tyd om reg te kom voor die volgende rugbyseisoen.”
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 2667A726
WhatsApp – 0748877590



