Local newsNews

Grondeise eers oor 1000 jaar afgehandel

"TLU SA was reg in sy waarskuwing dat die regering met die nuwe eiseproses 'n kan wurms gaan oopkrap wat hy nie kan hanteer nie,"

 

“Die huidige grondeiseproses gaan nie in een mens se leeftyd afgehandel word nie.

“Trouens, teen die huidige tempo gaan slegs die 20 737 eise wat in die eerste kwartaal van vanjaar ingedien is, meer as 55 jaar neem om te finaliseer,” lui ‘n verklaring wat deur TLU SA vrygestel is.

Dit sluit nie eise in wat nog uitstaande is van die vorige rondte nie, ook nie dié wat ná die eerste kwartaal ingedien is nie, en uiteraard ook nie dié wat nog tot 2019 ingedien moet word nie.

“Die Departement verwag dat sowat 379 000 eise ingedien sal word. Teen die huidige tempo gaan dié eise dan in ongeveer 1 000 jaar gefinaliseer word. Dit skep bowendien valse verwagtings by eisers dat hulle nog in hulle leeftyd vergoeding gaan ontvang.”

Só het mnr. Louis Meintjes, TLU SA se president, gereageer op syfers wat in die Parlement se portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming ter tafel gelê is.

“TLU SA was reg in sy waarskuwing dat die regering met die nuwe eiseproses ‘n kan wurms gaan oopkrap wat hy nie kan hanteer nie,” sê mnr. Meintjes.

“Daar word doelwitte gestel wat onrealisties is, en wat heel duidelik nie behoorlik deurdink is nie.

Die Departement Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming ly, soos so baie ander departemente, aan ‘n gebrek aan kapasiteit en kundigheid, en word nog net gedryf deur ‘n politieke agenda en ideologie wat sienderoë misluk.

Die ANC-regering wil skynbaar nie leer uit die duur lesse wat al elders in die wêreld geleer is nie.

Die uiteinde is dat boere onseker is oor hul toekoms, dat jong toetreders huiwer om in landbou betrokke te raak, en die verbruiker begin al hoe meer bekommerd raak dat as hy nog kos op die tafel gaan hê, dit onbekostigbaar duur kan word.”

“Intussen gaan dit beroerd met die land se ekonomie en ons huiwer op die rand van ‘n resessie.

‘n Verantwoordelike regering sou nou al sy aandag aan die herstel van die ekonomie gee, en hierdie onwerkbare grondeiseproses onmiddellik opskort. Helaas het ons die regering nie as verantwoordelik leer ken nie, dus kan onsverwag dat toestande net nog slegter gaan word,” sê mnr. Meintjes.

Hy het boere egter aangemoedig om hulle nie deur regeringsbeleid van stryk te laat bring nie, en positief voort te gaan om die verbruiker van kos op die tafel te voorsien.

“Boere moet hulle nie te vinnig ontstel in geval van ‘n grondeis nie, en eerder met TLU SA kontak maak. Ons boer steeds, nie te danke aan die regering nie, maar ten spyte van die regering,” het mnr. Meintjies gesê.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button