Visvrektes in Vaalrivier
Honderde visse, hoofsaaklik geelvis, het in die Vaalrivier in die Familiehoek omgewing naby Ermelo begin vrek.
“Ek woon al byna 50 jaar op die plaas en ek ken die omgewing goed. Dit is die eerste keer dat ek so iets sien. Dit is uiters kommerwekkend en ontstellend.”
Dit is die mening van mnr. Nick de Wet, ‘n boer van die Familiehoekdistrik naby Ermelo, nadat honderde visse, hoofsaaklik geelvis, in die Vaalrivier begin vrek het.
‘n Joernalis van die Hoëvelder het Saterdag die gebied besoek waar die Vaalrivier onder die Familiehoekpad deurvloei en is deur ‘n onrusbarende toneel begroet.
Tientalle dooie visse het in die water rondgedryf en op die oewers gelê. Stroom-op en stroom-af het dieselfde tonele hulle afgespeel.
“In al die jare wat ek dié omgewing ken, het so iets nog nie hier gebeur nie en ek weet nie wat die rede daarvoor is nie,” het mnr. De Wet gesê.
Hy het ook sy kommer uitgespreek dat, indien die visse weens besoedeling vergiftig is, roofdiere en -voëls ook sou begin vrek nadat hulle aan die viskarkasse gevreet het.
“Dit kan moontlik ook skadelik vir mense wees. Ons weet nie,” het hy bygevoeg.
Volgens mnr. De Wet is baie van die visse reeds deur die plaaslike bevolking weggedra en te oordeel aan die talle half-uitgedroogte karkasse wat op die oewers lê, het predatore ook al op die gebied toegesak.
Na wat verneem word, gebeur dieselfde stroom-af tot minstens by die Paul Krugerbrug op die pad tussen Ermelo en Amersfoort.
Die Hoëvelder het Maandag verskeie onsuksesvolle pogings aangewend om verskeie omgewingsdepartmente van die verskynsel in kennis te stel.
Die rede vir die visvrektes bly egter nog ‘n raaisel.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 2667A726
WhatsApp – 0748877590








