
‘n Vermeende dief is verlede Woensdagmiddag tydens die etensuur binne ‘n sakeonderneming op Ermelo met sowat R50 000 se gesteelde goedere in sy besit betrap.
Mnr. Martin Filter, bestuurder van EBM Computers, het gesê die kantoor word tussen 13:00 en 14:00 gesluit, maar met sy terugkeer het hy ‘n onbekende man binne in die kantoor gewaar.
“Ons sluit gewoonlik kort voor 14:00 weer oop, maar dié dag was ek sowat 10 minute vroëer en toe kry ek hom daar binne met ‘n rugsak oor sy skouer.
Hy het gesê hy wag vir iemand en na buite gestap.
Ek het die rugsak geëien as die eiendom van een van my werknemers en hom daaroor uitgevra. Toe laat spaander hy. ”
Die verdagte is met die hulp van verbygangers naby Kerkstraat aangekeer en die polisie is ontbied. Die gesteelde goedere, waaronder ‘n skootrekenaar, is teruggevind en die verdagte is in hegtenis geneem.
Intussen het medepligtiges die verdagte telefonies gekontak, vermoedelik om hom met sy buit op te laai.
‘n Verdagte voertuig is kort daarna naby die toneel opgemerk, maar die insittendes het weggejaag.
“Ons wil graag mense bewus maak van die ongelooflike vaardighede en slinksheid waaroor boosdoeners beskik om by kantore in te breek en te steel,” het mnr. Filter gesê.