
“Februarie 2017 word aangeteken as seker die ergste maand ooit sover dit aanvalle en moorde op plase en kleinhoewes betref, met die meeste aangeteken vir een spesifieke maand,” volgens Henry Geldenhuys, voorsitter van die Veiligheidskomitee – TLU-SA.
Volgens TLU SA se amptelike statistiek oor aanvalle en moorde vir Februarie vanjaar op plase en kleinhoewes, is daar tot en met Maandagaand die 27ste, 45 aanvalle en 17 moorde aangeteken. Dit bring die totale getal aanvalle van die begin van die jaar op 71 te staan wat met 21 moorde gepaard gegaan het.
“Met nog een dag oor vir die maand is hierdie statistiek skokkend. TLU SA spreek hiermee sy innige simpatie uit aan die families wat aangeval is en wat familielede in dié aanvalle verloor het. Ons dra ook ons dank oor aan die polisie en almal betrokke met die suksesvolle ondersoek, opsporing en inhegtenisneming van verdagtes in sekere gevalle,” het mnr. Geldenhuys gesê.
“Daar sal nou vir seker dringende aksies moet kom, van die regering en ook van die polisie se kant af.
Hulle planne werk nie meer nie,” het hy bygevoeg.
Hy het boere gemaan om hulself nie slagoffers te maak nie en hulle aangeraai om hul paraatheid en veiligheidsmaatreëls op te skerp.
“Dra u vuurwapen en weet hoe dit werk. As u een het en dit lê in die kluis, verkoop dit liewer. Skakel in by plaas- en buurtwagte en raak betrokke by veiligheidsinisiatiewe, ongeag watter organisasie dit is. Bid elke dag vir die hand van beskerming van die Here en word deel van die dag van verootmoediging, soos wat eersdaags aangekondig sal word ,” het mnr. Geldenhuys gesê.
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Ridge Times andStanderton Advertiser.
For more news and interesting articles, like us on Facebook, follow us on Twitter or Instagram



