
Wat as ‘n normale dag moes begin, het op 26 Junie in ‘n nagmerrie vir ‘n personeellid van Standerton Buiteklub en haar dogter ontaard nadat hulle vasgebind en in kluis by die klub toegesluit is.
Drie onbekende mans en vermoedelik ‘n werknemer wat betrokke was, het geld, selfone en selfs voertuigsleutels gebuit wat teruggevind is nadat die een verdagte in hegtenis geneem is.
Volgens die personeellid was sy in die kantoor om die naweek se geld op te kas en die deur was soos gewoonlik gesluit.
Sy het die een werker by die deur opgemerk en uitgegaan om die veiligheidshek oop te maak en aan hom gesê om die deur agter hom toe te trek.
Volgens haar het sy weer iets by die hek gehoor waarop haar dogter haar geterg het deur te sê sy is nuuskierig.
“Nadat ek by die deur uitgestap het, het ek een onbekende man gesien en gevra of ek kan help,” het die personeellid gesê.
“Nadat ek die ‘cable ties’ gesien het, het ek reeds die ergste verwag en geweet wat op pad was.”
Die skurke het die ma en dogter vasgebind.
Volgens die dogter het die een skelm haar met ‘n mes gedreig en hulle moes die kontant en selfone in ‘n sak gooi terwyl hulle hande vasgebind was.
Ma en dogter het gemaak soos die boewe gesê het omdat dit nie die eerste keer is dat die personeellid in ‘n gewapende roof betrokke is nie.
Die skelms het hulle beveel om na die kluis te gaan en met die bos sleutels wat hulle gevat het, oop te sluit.
Die personeellid het hulle gevra om hul nie na die kluis te neem nie en die skurke het haar woordeliks stilgemaak. Volgens haar was die rowers nie bewus dat sy nog haar selfoon by haar gehad het nie en sy het nadat sy hulle nie meer kon hoor nie, dadelik alarm gemaak.
Blykbaar was mnr. Jandré Kasselman van Kasselman Veiligheidsdienste (KVD) eerste op die toneel en die ander werknemer het die getraumatiseerde duo uit die kluis bevry. Die skurke het te voet die hasepad gekies en mnr. Lourens Uys, reaksie-offisier van KVD, het na die negende putjie gegaan waar baie digte riete is omdat die verdagtes daar ingehardloop het.
‘n Soektog is dadelik geloods.
Volgens mnr. Uys het hy iets blou gewaar en sy vuurwapen gerig en geskree, waarop die verdagte hande in die lug opgestaan het.
Mnr. Themba Mazibuko, reaksie-offisier van KVD, was by en het mnr. Uys bygestaan.
‘n Beheerde brand, onder die wakende oog van die Standerton Brandweer, is later gestig om seker te maak die ander verdagtes kruip nie nog tussen die riete weg nie.
Volgens kapt. Fanie Nhlabathi, woordvoerder van die Standerton Polisie, is ‘n werknemer van die klub in verband met dié roof in hegtenis geneem.
Hy het gesê dat die twee verdagtes op 27 Junie in die Standerton Landdroshof sal voorkom.
Die Standerton Polisie ondersoek ‘n saak van besigheidsroof.




