Local newsNews

LJ de Jager van Ermelo oorskry alle verwagtinge met sy herstel na ’n aneurisme bars

“Hulle het gesê dat ek nie weer sal kan loop nie en tog loop en praat ek vandag.” het mnr. de Jager vertel.

Mnr. LJ. de Jager se lewe word as ‘n wonderwerk beskryf nadat hy alle verwagtinge van sy herstel oorskry het.

Hy het ‘n aneurisme gehad en binne die bestek van twee dae, na aanvanklike behandeling by ‘n plaaslike MediClinic, is hy in die intensiewe-sorgeenheid in Steve Biko Hospitaal in Pretoria opgeneem.

Na sy ouers met vele dokters gesels het, het die noodsaaklikheid duidelik geword dat hy na ‘n rehabilitasiesentrum gestuur moet word.

Met die hulp van mense landwyd, het die gesin die nodige geld ingesamel om mnr. de Jager vir ses weke by die Muelmed Rehabilitasie Sentrum se program in te skryf.

“Die geld het hom mooi gedra tot nou en was dit nie daarvoor nie, asook natuurlik ons Hemelse Vader se genade nie, sou hy nie gewees het waar hy nou is nie,” het sy pa gesê.

Hy het daar daagliks intensiewe behandeling gekry van ‘n arbeids-, spraak- en fisioterapeut.

Sy pa, mnr. Leon de Jager, het vertel dat die terapeute tydens sy seun se 12 weke ondersoek beïndruk was met LJ se vordering.

Met sy aankoms in Ermelo, het die soektog begin na nuwe terapeute om sy rehabilitasie voort te sit.

Mense het ingespring en hulle hulp aangebied en hy het swemterapie by me. Annelize Prinsloo begin kry, wat volgens sy pa wonders verrig het.

Me. Anina Webber het ook haar hulp as fisioterapeut aangebied en die gesin voel geseënd met almal wat bydraes gelewer het tot mnr. de Jager se herstel.

Also read:

https://highvelder.co.za/62499/lj-de-jager-in-steve-biko-hospitaal-na-aneurisme-bars/

Ligbron Akademie vir Tegnologie het verbeterings aan die gesin se huis aangebring om die lewe vir mnr. De Jager by sy huis te vergemaklik.

“Hulle het gesê dat ek nie weer sal kan loop nie en tog loop en praat ek vandag,” het mnr. De Jager vertel.

Hy sukkel wel nog met sy regterarm wat hy nie kan beweeg nie, maar het vertel dat hy al gevoel in die arm het.

“Dit is nie ‘n geval van as my arm regkom nie, maar eerder van wanneer hy gaan regkom.”

Sy regterbeen se volle gebruik word tans belemmer deur ‘n vergroeisel in sy lies. Skanderings sal vroeg in Januarie gedoen word om te bepaal tot watter mate die vergroeisel sy been se herstel sal beïnvloed.

‘n Verhoogstuk wat deur sy tannie, me. Yvonne Dippenaar geskryf is wat die getuienis van mnr. De Jager uitbeeld, is tydens die Kaalvoet Kunstefees wat by die N.G. Kerk se Oosgemeente aangebied is, het die lewens van soveel mense aangeraak.

Hulle het vertel dat die verhoogstuk nie net getuig van die wonderwerk van mnr. De Jager se lewens nie, maar het ook uitgebeeld dat ‘n mens soms ook tot stilstand kom in jou geloof.

Die gesin het nog groot planne met die verhoogstuk om ook mense in ander dorpe se lewe deur die getuienis van LJ te verander.

Vroeg in Januarie sal ‘n volledige funksionaliteitstoets gedoen word om te bepaal tot watter mate mnr. De Jager weer sal kan werk en wat die moontlikheid is dat hy weer ‘n motor kan bestuur.

Mnr. De Jager glo vas dat God nog nie klaar is met hom nie en dat hy net moet vasbyt en wag vir God se tyd.

“Vir nou, kies ons om hard te werk aan die rehabilitasie en in God se wagkamer te bly.”

Mnr. LJ de Jager is saam met sy pa mnr. Leon de Jager dankbaar dat hy nog lewe en nog elke dag herstel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button