Ermeloërs bevraagteken die veiligheid van die vuil stinkende water wat sommige inwoners ervaar
Volgens een van die inwoners ruik hulle water soos ’n ou visdam en het ’n vuil bruin kleur. Ander inwoners het genoem dat hulle water ’n geel tot goue kleursverandering ondergaan het en dat hulle dit nie eers waag om die water te drink nie.

Inwoners van Ermelo bevraagteken die veiligheid van die vuil stinkende water wat die afgelope twee tot drie weke uit hulle krane loop.
Nadat die Hoëvelder oorval is met vrae, het ons navrae gerig aan Msukaligwa Munisipaliteit oor die waterprobleem wat sommige Ermeloërs tans ervaar.
Volgens een van die inwoners ruik hulle water soos ‘n ou visdam en het ‘n vuil bruin kleur. Ander inwoners het genoem dat hulle water ‘n geel tot goue kleursverandering ondergaan het en dat hulle dit nie eers waag om die water te drink nie.
“Om badwater te laat inloop en ons klere te was is aaklig, alles ruik na vrot water en dit is te duur om water te koop vir alle huishoudelike gebruike,” het ‘n onstelde inwoner aan die Hoëvelder gesê.
Dié inwoner het genoem dat sy kos maak vir ander mense en kan dit nie waag om die water vir die kos te gebruik nie, wat beteken dat haar uitgawes hoër is as gevolg van die water wat sy moet aankoop.
Sommige inwoners is van mening dat die probleem ongeveer dieselfde tyd as die kragonderbrekings begin het.
‘n Inwoner in Camdenlaan het op ‘n sosiale media groep genoem dat hulle water ‘n slegte smaak het en vir hulle na urine ruik en ander inwoners het genoem dat hulle water na swembadwater proe.
Die laat die vraag by menigde inwoners of Ermelo se water veilig is vir menslike gebruik. Met geen inligting van die Msukaligwa Munisipaliteit, bly inwoners in die donker en wonder oor wat die probleem is en wanneer dit opgelos gaan word.
“Ons as die Mpumalanga Nasionale Freedom Party (NFP), ervaar ‘n ernstige probleem met betrekking tot water sanitasie in die Lothair en omliggende gebiede, waar ons water met swart olie van die waterbronne ontvang het, en geen van die munisipaliteitslede wat gekom het om aan die gemeenskap te kom verduidelik waarom ons die vuil water vanuit hulle waterpompe ontvang het nie,” het mnr. Master Soko, NFP voorsitter, in ‘n e-pos aan die Hoëvelder geskryf.
“Volgens die waterafdeling is die kwaliteit van die water vir 29 Maart 2019 vir Douglas; Turbiditeit Finale (0.34), pH (7.38), ‘Free’ Chloor (1.25) en die totale Chloor (1.37 en Southern Works (Ermelo); Turbiditeit Finale (0.17), pH (8.19), ‘Free’ Chloor (4.40) en die totale Chloor (5.20),” het Mr Mandla Zwane, woordvoerder van die Msukaligwa Munisipaliteit gesê.
Hy het bygevoeg dat die SANS 241 perke se turbiditeit finale minder as een moet wees, die chloor moet meer as een toets maar minder as vyf, en die pH moet tussen sewe en nege wees.
Die Hoëvelder het ook navrae aan Msukaligwa Munisipaliteit gerig oor wat die oorsaak van die vuil stinkende water kan wees, asook oor hulle ondersoek om die probleem op te los.
Msukaligwa Munisipaliteit het gesê: “Ons neem monsters op ‘n voorafbeplande skedule (twee keer per dag by Douglas en Southern Works as deel van ons interne waterkwaliteitmonitering en elke tweede week deur die GSDM waterkwaliteitslaboratorium, ‘n geakkrediteerde fasiliteit) om te verseker dat die watergehalte korrek is en tree dan volgens die resultate op.
“Ons verseker die gemeenskap dat die water vir menslike verbruik geskik is, sou hul iets opmerk in die water stel ons voor dat hul die kraan vir ‘n paar sekondes laat loop.”
Also read:
https://highvelder.co.za/68758/residents-question-whether-ermelos-water-is-safe-for-human-consumption/