Ermelo se Jacques Kruger toor met ’n kamera in die hand
Makro-fotografie maak vir hom ’n nuwe wêreld van detail oop, waar hy ander ’n blik kan gee op dit wat mense nie met die blote oog kan waardeer nie.

Mnr. Jacques Kruger se liefde vir die natuur se skoonheid het sy passie vir fotografie geprikkel en vandag, 13 jaar nadat hy sy eerste kamera gekoop het, het hy die kuns om kreatiewe foto’s te neem, bemeester.
Hy het sy vaardighede in fotografie geslyp deur duisende foto’s te neem en sy grense te verbreed met elkle foto wat hy neem.
“Ek poog om altyd ’n beter foto te neem en ek eksperimenteer gereeld met verskeie tegnieke wat ek op YouTube bestudeer en in my vrye tyd beoefen.”

Kort na hy sy eerste salaris in 2006 ontvang het, het hy impulsief sy eerste kamera, ’n Kodak Z612, aangeskaf.
Hy het vertel dat hy vir die vyf jaar wat gevolg het, geen idee gehad wat fotografie eintlik behels nie.
“Dit was maak mik en druk totdat ek my eerste DSLR-kamera aangeskaf het.”
Mnr. Kruger het in 2013 met die aankoop van sy DSLR-kamera fotografie meer ernstig begin beoefen en familie en vriende was gereeld nader getrek as proefkonyne.
Sy gunsteling genres is portrette en makrofoto’s.

Hy geniet dit om die karakter van ’n persoon of dier vas te vang en poog altyd om sy voorwerp se sterkste of mooiste eienskappe te beklemtoon.
Hy het bygevoeg dat hy dit geniet om ’n tema te skep wat daartoe bydrae dat sy foto’s ’n beter verhaal vertel.
“My kreatiewe vrou help my gewoonlik met die uitbeelding van ’n tema.”

Makro-fotografie maak vir hom ’n nuwe wêreld van detail oop, waar hy ander ’n blik kan gee op dit wat mense nie met die blote oog kan waardeer nie.
Op die vraag oor watter vervaardigers hy dink huidiglik die voorlopers in die bedryf is, het hy vertel dat Sony onlangs groot tegnologiese stappe geneem het met die Alpha 9 en die ARIII en dat hulle indrukwekkende sensors en in-kamerastabilisering ontwikkel het.
“Goeie nuus vir Canon-aanhangers is die ontwikkeling van die Canon R5 wat Sony kameras moontlik bietjie gaan laat bloos.”

Lees die volledige berig in die Hoëvelder.



