Helpende Hand konsulteer met regspan oor sentralisering van kosverspreiding
Die vakbond Solidariteit en die burgerregteorganisasie AfriForum het aangedui hulle sal regstappe steun en het reeds fondse bewillig vir ’n moontlike hofgeding in dié verband.
Solidariteit Helpende Hand het met sy regspan in verbinding getree weens verdere vereistes van staatsinstellings afgesien van die bestaande Covid-19-regulasies.
Hul regspan is van mening dat verdere vereistes onrusbarend op pogings om kosverspreiding te sentraliseer en te beheer, dui in plaas daarvan dat gemagtigde instansies in terme van die bestaande regulasies toegelaat word om kosverspreiding vinnig en effektief in dié krisis aan hulpbehoewendes verleen.
Mnr. Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, is van mening dat volgens die jongste Covid-19-regulasies in die land, noodlenigingsaktiwiteite toelaatbaar is en daar geen beletsel is wat Helpende Hand verhinder om kos te versprei nie, aangesien dié instansie die nodige verspreidingspermitte in plek het.
Hul permit laat hul ook toe om kos van skenkers te ontvang om te versprei.
“Indien enigiemand Helpende Hand verhinder om noodlenigingsaktiwiteite uit te voer, tree die betrokke persoon teenstrydig met die wet op,” het mnr. Noëth gesê.
“Solidariteit Helpende Hand bevestig weer en beklemtoon dat organisasies toegelaat moet word om ongehinderd noodlenigingsaktiwiteite te verrig.
“Enige ander organisasie wat noodlenigingsaktiwiteite lewer en die nodige permitte het, kan met Helpende Hand se regspan in verbinding tree sou hulle verhinder word om hul werk te doen.”
Mense kan volgens hom bloot ’n e-pos aan diens@helpendehand.co.za stuur.
Helpende Hand het op 3 Mei gewaarsku dat regsaksie sal volg indien kosverspreiding deur die regering of staatsinstellings gesentraliseer word.
R200 000 vir regstappe teen die kaping van welwillenheid! Want die #Sentralisering van #voedsel is nie reg nie! Dankie @Sakeliga! @solidariteit @SBeweging @SolidariDirk @NoethHannes @ErnstVorster https://t.co/PjYYiT3QAm
— Solhelpendehand (@solhelpendehand) May 5, 2020
Hulle het aan hul regspan opdrag gegee om te begin voorberei vir ’n hofgeding, sou die regering of enige staatsinstelling voortgaan met stappe in dié verband.
Helpende Hand soek duidelikheid van die verskillende staatsinstellings ter sprake oor dié vereistes vervat in mediaverklaring en kennisgewings wat deur munisipaliteite uitgereik is.
Hulle het spesifiek verwys na die mediaverklaring van Panyaza Lesufi, waarnemende LUR vir maatskaplike ontwikkeling in Gauteng, ’n skrywe van Emalahleni (Witbank) se plaaslike munisipaliteit en ’n skrywe in die Vrystaat wat ’n registrasie vereis om kos onder behoeftiges te versprei.
Helpende Hand se regspan het reeds skrywes aan die onderskeie departemente gestuur en wag vir terugvoering.
Mnr. Noëth het gesê Helpende Hand ontvang reeds ondersteuning vanuit verskillende oorde, onder andere die Rapportryerbeweging en kultuurorganisasies, sakekamers, sakeondernemings, kerke en diakonieë, skenkers en ander organisasies vir ingeval Helpende Hand in ’n hofgeding met die regering betrokke raak.
Die vakbond Solidariteit en die burgerregteorganisasie AfriForum het aangedui hulle sal regstappe steun en het reeds fondse bewillig vir ’n moontlike hofgeding in dié verband.
Die sakegroep Sakeliga en het ’n verdere skenking aan Helpende Hand aangekondig.
Dié geld word geoormerk vir noodleniging en, indien nodig, regsaksie ter voorkoming van nasionalisering van welwillendheid.
“Solidariteit steun Solidariteit Helpende Hand se veldtog teen die sentralisering van kosverspreiding, want ons is aan die kant van diegene wat honger is midde-in die krisis,” het mnr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.
Ook mnr. Kallie Kriel, hoof van AfriForum, het gesê dié burgerregte-organisasie ondersteun Helpende Hand se veldtog ten volle.
"Ons weier!" @afriforum sal voortgaan om saam met ons vennote @solhelpendehand en @saai.org voedsel in ons gemeenskappe te versprei, ongeag die owerheid se diktatoriale pogings om beheer oor skenkings en verspreiding te kry … #AfriForumStaanSaam https://t.co/f87mVyyPxx
— Kallie Kriel (@kalliekriel) May 5, 2020
“Dit is noodsaaklik om te veg teen beheersugtige politici se pogings om selfs tydens ’n dodelike krisis, die doeltreffende verspreiding van kos op te offer om hul eie drang na mag en voorskriftelikheid te bevredig,” het mnr. Kriel gesê.
Volgens mnr. Noëth is Helpende Hand bewus daarvan dat daar regulasies en veiligheidsmaatreëls moet wees en toegepas moet word wanneer dit oor kosverspreiding gaan, maar dat dit op magsmisbruik neerkom om vir nieregeringsorganisasies voor te skryf hoe en waar kos versprei moet word.



