Die feestyd is ‘n tyd van groot kommer wat die veiligheid van Suid-Afrikaanse boere betref, so meen genl. maj. Chris van Zyl, Transvaalse Landbou-unie van Suid Afrika (TLU SA) se adjunkhoofbestuurder.
“Die tyd van die jaar neem plaasaanvalle en misdaad op plase toe. Veiligheid gedurende die feesseisoen is ‘n baie belangrike kwessie en een wat groot kommer wek,” het hy gesê.
Sedert November is verskeie aanvalle en moorde op plase landwyd aangemeld.
Een van die hoofredes vir die verhoging, volgens mnr. Van Zyl, is die aanname dat boere in hierdie tyd groot bedrae kontant by hulle het om lone en dies meer te betaal.
“Kontant is beslis ‘n groot probleem. Die gebruik van ‘n digitale betaalstelsel is die oplossing, maar geografiese faktore, toegang tot winkels, hoe om daar te kom en die tyd wat dit neem, is van die groot uitdagings vir implementering. Daar is ‘n persepsie dat daar baie kontant, vuurwapens en verhandelbare goedere op elke plaas is.”
Mnr. Van Zyl waarsku ook teen kontanttransaksies vir die aankoop van vee en ‘n afname in waaksaamheid en paraatheid oor die feesseisoen.
“Dit is immers vakansietyd – en dan word slagoffers ontnugter en verras.” Daar is egter nie net waarskuwings nie, maar ook raad wat TLU SA aan boere gee.
“Ek moet beklemtoon hoe belangrik betrokkenheid by jou onmiddellike omgewing in hierdie tyd is. Jy kan en mag nie in isolasie leef nie. Onthou, jou buurman is jou naaste hulpbron.
Lees die volledige berig in die Hoëvelder.



