Gasbottel ontplof na brand op plaas Klipfontein.
Met sy aankoms het 'n gasbottel binne een van die motorhuise ontplof en mnr. Koen en die Acsu-voertuig waarin hy gery het, net-net gemis.
ERMELO – ‘n Brand het op 16 Januarie op die plaas Klipfontein uitgebreek.
Volgens mnr. Mandla Zwane, die woordvoerder van Msukaligwa Plaaslike Owerheid, het die brand weens ‘n elektriese fout ontstaan.
Mnr. Dawid Zeelie, die eienaar van die plaas, het aan Hoëvelder vertel dat sy plaasbestuurder, Stiaan, die rook by hul motorhuise se dak gewaar het, waarna hulle op die radio om hulp geroep het.
Volgens mnr. Paul Koen, die skofbevelvoerder en reaksiebeampte van Acsu, is hy deur mnr. Oubaas de Jager versoek om na die Zeelies se plaas op die Amersfoort-pad te jaag.

“Daar is aanvanklik gedink dit was ‘n plaasaanval, maar later is daar vasgestel dat die motorhuise aan die brand was,” het mnr. Koen gesê.
Met sy aankoms het ‘n gasbottel binne een van die motorhuise ontplof en mnr. Koen en die Acsu-voertuig waarin hy gery het, net-net gemis.

Mnr. Koen het saam met die boer ingespring om die vlamme te blus. Die Msukaligwa Brandweerdienste met mnr. Johan Oberholzer het kort daarna op die toneel aangekom.
“Boere van die omgewing was blitsvinnig op die toneel om hulp te verleen, en die brand is geblus.”



