Oom Jan Oosthuizen van Morgenzon besoek sy ossewa by Voortrekkermonument
Hy het vir Wilma, sy dogter, gevra om op sosiale media te kyk of iemand nie dalk in die wa sou belangstel nie.
MORGENZON – Hy is net bly dat hy op sy oudag só iets kon doen.
Só het mnr. Jan Adriaan Oosthuizen (88), ‘n boer van die Morgenzon-distrik naby Ermelo, oor die vervoerwa wat hy verlede jaar aan die Voortrekkermonument geskenk het, gesê.
Mnr. Oosthuizen het Donderdag saam met lede van sy familie die Voortrekkermonument besoek om na dié wa by sy nuwe tuiste te kyk.
Mnr. Oosthuizen het vertel hoe hy hierdie historiese ossewa in 1972 in ‘n skuur ontdek het toe hy die plaas Uitzig gekoop het.
Hy het nooit die skuur gebruik nie weens die wa wat daarin gestaan het.
Verlede jaar het hy egter besluit om die ossewa ‘n nuwe tuiste te gee.
Hy het vir Wilma, sy dogter, gevra om op sosiale media te kyk of iemand nie dalk in die wa sou belangstel nie.

Tot haar groot verbasing, het sy besef dat mense duisende rande vir ossewaens sou betaal en sy het haar pa die nuus meegedeel.
“Ek het vir haar gesê ek wil nie hê die wa moet vergaan nie. Ek wil nie geld vir die ossewa hê nie. Ek wil slegs hê dit moet bewaar word. Ek het toe dadelik besluit die Voortrekkermonument is die regte plek waar die ossewa sy laaste staanplek sal kry,” het mnr. Oosthuizen gesê.
Hierdie ossewa wat eersdaags die JA Oosthuizen-wa sal heet, is nou deel van die lewende laer by die Voortrekkermonument.
Mnr. Jaco van Rensburg, wat saam met sy vrou, Endriëtta, aan die stuur van sake by die lewende laer staan, het verlede jaar gehelp om die wa van Mpumalanga na die monument te vervoer.
Hy het destyds aan mnr. Oosthuizen gesê dit is vir hulle ‘n groot voorreg om die wa te ontvang en hom genooi om dit te eniger tyd te kom besigtig.
Lees die volledige berig in die Hoëvelder.



