
ERMELO – Die AfriForum-buurtwag het op 27 Maart gehelp om ’n voertuig wat as gesteeld aangemeld is, te vind.
Omstreeks 21:10 is inligting van plaaslike boere ontvang dat die voertuig op die N2 by Panbult opgemerk is.
Spartan Training and Security en die polisie het saam met die Ermelo-buurtwag op die inligting gereageer.
Die voertuig is later weer op die dorp opgemerk en voorgekeer.
Volgens mnr. Frikkie du Plessis, die ondervoorsitter van die Ermelo AfriForum-buurtwag, was die insittende uit die veld geslaan toe al die betrokke lede op hom toesak.
“Die man, wie volgens inligting al die nodige dokumentasie vir die voertuig gegee is, was salig onbewus dat die voertuig as gesteeld in Pretoria aangemeld is.”
Die voertuig is na die Ermelo-polisiestasie geneem en die ondersoek duur voort.
“Hierdie sukses bewys dat goeie samewerking met verskeie organisasies tot suksesse lei,” het mnr. Heinrich Jansen van Rensburg, die voorsitter van die Ermelo AfriForum-buurtwag, gesê.
Volgens die polisie woordvoerder, Kaptein Carla Prinsloo, is daar nie in Ermelo ‘n saak in verband met die insident geopen nie.



