Elmarie Grobler wys by SA-atletiekbyeenkoms dat ouderdom net ’n nommer is
Sy het ’n silwer medalje in 100 m, gewigstoot en diskus, en ’n brons medalje in die vyfkamp-item behaal
Elmarie Grobler van die Ermelo Marathonklub het vanaf 5 tot 7 Mei aan die Suid-Afrikaanse Atletiekbyeenkoms vir Meesters (Sama) deelgeneem en het haar plek behoorlik volgestaan.
Dié byeenkoms is vanjaar deur Gauteng-Noord in Pretoria by die Pilditch-stadion aangebied.
Sy het ’n silwer medalje in 100m, gewigstoot en diskus, en ’n brons medalje in die vyfkamp-item behaal.
Haar voorbereiding vir die byeenkoms het reeds in September begin. Sy het ’n fiksheidsprogram by Hoërskool Ermelo se gimnasium gevolg.
Grobler, ’n onderwyser by Ligbron Akademie vir Tegnologie, het gesê dat sy soms tydens die afrigting van Ligbron se atlete saam met hulle geoefen het.

Haar grootste motivering is haar twee kinders, Marco en Lana.
“Ek wil graag my kinders trots maak op hulle ma, en dis vir my ’n groot voorreg om nog op my ouderdom te kan deelneem,” het Grobler gesê.
Sy hoop ook dat sy ander mense en haar leerders en atlete by die skool kan motiveer deur vir hulle ’n voorbeeld te wees.
Vir Grobler was die hoogtepunt van die byeenkoms die aflos, en sy het gesê dat dit die mees opwindende item van enige atletiekbyeenkoms vir haar was.
Lees die volledige berig in die Hoëvelder.



