Sean Duranty laat hom nie deur kanker onderkry nie
Sy verloofde het 'n inisiatief begin om pers strikkies teen slegs R3 elk te verkoop om vir haar geliefde geld in te samel vir die pad wat voorlê.
ERMELO – In die fleur van sy lewe staar mnr. Sean Duranty, op slegs 30-jarige ouderdom, nou vir ‘n tweede keer kanker in die gesig.
Mnr. Duranty, ‘n bekende gesig in die sportkringe op die dorp, het op 28 Mei vir die eerste keer na ‘n lang tyd weer vir die Ermelo Brahmane uitgedraf.
Hy is voorspeler van die wedstryd aangewys.
Dit was tydens dié wedstryd dat hy besluit het dat dit dalk tyd is om sy rugbytoks weer af te stof, maar die lewe het ‘n ander spelplan vir hom gehad.
Nadat hy onlangs op sosiale media meegedeel het dat hy slegte nuus tydens een van sy halfjaarlikse ondersoeke ontvang het, het die plaaslike gemeenskap soos een man agter hom met gebede en ondersteuning gestaan.
Gedurende sy onlangse toetse is daar met ‘n sonar abnormaliteite opgemerk. Hy is aangeraai om dringend ‘n uroloog te gaan spreek.
Hy het die een middag ‘n afspraak gekry. Dit is bevestig is dat daar weer gewasse is.
“Die dokter wou nie enige kanse waag nie, omdat daar die vorige keer vier verskillende kankers in die gewasse gevind is, en het my vir die eerste beskikbare afspraak bespreek,” het mnr. Duranty gesê.
Hy het op 3 Junie ‘n operasie ondergaan om die gewasse te verwyder, en dit is weggestuur vir verdere toetse.
Mnr. Duranty het aan Hoëvelder gesê dat dit ‘n groot skok was, maar dat hy nie gaan toelaat dat dit hom onderkry nie.

“Hoewel daar ‘n groot kans is dat ek nooit kinders van my eie sal hê nie, is my verloofde se drie seuns soos my eie kinders, en ek sal met alles in my baklei om die kanker te oorwin.”
Die pad vorentoe is nog onbekend, maar met die liefde en ondersteuning van die mense om hom, sien hy kans vir enige uitdaging.
Hy is in Oktober 2017, kort nadat hy vir die Rhino-rugbyspan gekies is, vir die eerste keer met kanker gediagnoseer.
Sy verloofde het ‘n inisiatief begin om pers strikkies teen slegs R3 elk te verkoop om vir haar geliefde geld in te samel vir die pad wat voorlê.
Vriende van mnr. Duranty het ‘n blesbok aangeskaf, waarvoor hulle lootjies as ‘n fondsinsamelingsinisiatief verkoop.
Hy het almal in die gemeenskap vir hul ondersteuning en gebede bedank.



