Waar is Ermelo se verkeersbeamptes?
By bykans elke verkeerslig is daar gesien dat mense kanse vat en oor rooi ligte ry.

ERMELO – Ná ’n ongeluk gemengde emosies uit die gemeenskap ontlok het, het Hoëvelder by verskeie verkeersligte op die dorp gaan ondersoek instel.
By bykans elke verkeerslig is daar gesien dat mense kanse waag en oor rooi ligte ry.
Dit blyk asof dit die algemene norm op die dorp is, en dat meeste bestuurders te haastig is om by hul bestemmings uit te kom en nie by ’n rooi lig wil stop nie.
Hoëvelder het navrae aan Mandla Zwane, die Msukaligwa Plaaslike Owerheid se woordvoerder, gestuur oor die hoeveelheid verkeersbeamptes wat op Ermelo beskikbaar is, en ook wat hulle gedurende die dag doen, omdat daar selde ’n beampte te siene is.
Volgens hom is daar ses verkeersbeamptes.
In die hoofstraat waar die parkering beperk is, is daar opgemerk dat verskeie motoriste in die pad langs ander voertuie parkeer om “gou” hulle inkopies te doen.
Dit veroorsaak ’n opeenhoping van voertuie wat óf moet wag dat die aankomende verkeer stilhou sodat hulle die dubbele voertuie kan verbysteek, óf ’n kans waag om deur te skiet.
Tussen dié chaos hardloop daar voetgangers in die verkeer oor die straat, wat noodlottige gevolge kan hê.
Ander tendense is dat klein kinders voor by die bestuurders sit en dat baie bestuurders op hulle selfone praat terwyl hul bestuur.
Op die oog af verontagsaam sommige vragmotorbestuurders die spoedgrens by die kruising van Kerk- en Fouriestraat en draai hulle teen ’n hoë spoed links of regs af.
Die talle slaggate in die dorp dra ook by dat motoriste van een baan na ’n ander moet uitswenk om hulle bande te probeer beskerm.
Hoe ervaar jy motoriste se bestuursvernuf op die dorp? Stuur vir ons ’n epos by editor@highvelder.co.za
Lees die volledige berig hieroor in die Hoëvelder.



