Waar daar ’n rokie trek, is daar dalk net ’n onwettige vuurtjie op Ermelo
Indien enige inwoner onwettige brandstigting opmerk kan hul dit by die nood-inbelsentrum op 017 801 3400 rapporteer.
ERMELO – Hangende rookwolke is gereeld in die dorp te sien, en sommige dorpenaars het onlangs die kwessie van onwettige brandstigting onder Hoëvelder se aandag gebring.
Op 12 Julie is digte rookwolke agter die Game-winkelsentrum opgemerk, waarna die koerant ondersoek gaan instel het en gemerk dat daar verskeie veldbrande op die Mkondo-pad is.
Igagu Nooddienste en Eskom se brandbestryders en reddingwerkers was op die toneel naby aan die Camden-kragstasie om die brand te observeer en spoedig op te tree indien dit buite beheer sou raak.
Hoëvelder het vroeër berig van verskeie gevalle waartydens blare en ander tuinrommel in woonbuurte verbrand word.
Gedurende een van dié voorvalle moes die inwoners in ’n kompleks inderhaas hulle huise se venters en deure toemaak om te verhoed dat die digte rook binnedring.
“Die brandweer het die skuldige party kom besoek, maar het hy hom nie aan hulle gesteur nie en meer vullis op die hope gebrand,” het een van die inwoners vertel.
Die brand van vullis in dorpenaars se erwe is teen die wet en die skuldiges kan boetes opgelê word.
Volgens Msukaligwa Plaaslike Owerheid se bywette mag niemand ’n oop, onbeheerbare of onbewaakte vuur maak of toelaat dat ’n vuur in sodanige plek en/of op so ’n wyse gemaak word dat dit ’n werklike of potensiële bedreiging vir enige mens, dier, gebou, perseel of ander eiendom inhou nie.



