TLU SA loods eerste Jeugboer van die Jaar-kompetisie
Deelnemers kry die geleentheid om hul kreatiwiteit, probleemoplossingsvaardighede en verantwoordelikheidsin te ontwikkel deur praktiese landbou- en voedselprojekte.
TLU SA brei sy bestaande Jongboer van die Jaar-kompetisie uit deur in 2026 vir die eerste keer ’n Jeugboer van die Jaar-kompetisie vir skoliere aan te bied.
Dié projek is daarop gemik om jong mense reeds op skoolvlak bloot te stel aan landbou en entrepreneurskap.
Deelnemers kry die geleentheid om hul kreatiwiteit, probleemoplossingsvaardighede en verantwoordelikheidsin te ontwikkel deur praktiese landbou- en voedselprojekte.
Volgens Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, bou die nuwe kompetisie voort op die sukses van die bestaande program.
“Die Jongboer van die Jaar het jaar na jaar bewys dat dit ’n kragtige platform is om jong mense se talent en innovasie te wys,” het hy gesê.
“Ons sien groot waarde daarin om hierdie geleenthede na skole uit te brei.”
Die fokus van die projek is nie slegs op grootskaalse boerdery nie, maar ook op klein, volhoubare projekte wat waarde vir gemeenskappe kan skep.
“Dit is vir ons belangrik dat kinders vroeg leer hoe om idees in praktyk toe te pas en verantwoordelikheid te neem,” het Van Zyl bygevoeg.
Die kompetisie begin later vanjaar en bied leerders ’n nuwe platform om hul idees en vaardighede aan ’n breër gehoor te wys. Alle minderjarige deelnemers moet skriftelike toestemming van ’n ouer of wettige voog hê, insluitend toestemming vir die gebruik van foto’s en video’s.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 2 Augustus 2026, en die wenner sal op 2 September 2026 bekend gemaak word.
Om deel te neem, moet deelnemers ’n aanlynvorm invul en ’n video van drie tot vyf minute indien.
In die video moet hulle hulself voorstel, hul projek verduidelik, wys hoe dit in praktyk werk, en aandui wat hulle reeds geleer het en hoe die projek volhoubaar of winsgewend kan wees.
Volgens die organiseerders is die inhoud van die video belangriker as die produksiegehalte, en kan dit selfs met ’n selfoon opgeneem word.



