Sport

Ermelo-stoeier gekies vir 2026 Statebond-stoeikampioenskap

WP Human van die Ermelo-stoeiklub is gekies om Suid-Afrika by die 2026 Statebond-stoeikampioenskap in Polokwane te verteenwoordig en mik daarna om ’n medalje huis toe te bring.

WP Human van die Ermelo-stoeiklub is gekies om Suid-Afrika by die 2026 Statebond-stoeikampioenskap te verteenwoordig, wat van 4 tot 6 Desember in Polokwane plaasvind.

Human is baie gelukkig dat sy harde werk deur die jaar vrugte afgewerp het en dat hy die geleentheid kry om sy land op internasionale vlak te verteenwoordig.

Om vir die span gekies te word, moes stoeiers die eerste plek by die o. 20- Suid-Afrikaanse kampioenskap behaal.

“Omdat Suid-Afrika vanjaar die internasionale toernooi aanbied, word twee spanne gestuur – ’n A-span bestaande uit die eersteplekwenners en ’n B-span met die stoeiers wat tweede geëindig het,” het Human vertel.

Ter voorbereiding vir die kampioenskap het Human reeds ’n nasionale oefenkamp bygewoon. Hy is ook hard aan die oefen by die klub en die gimnasium om gereed te wees vir die kompetisie.

WP Human. Foto | Verskaf/Willem-Jan Human

Sy grootste prestasie tot dusver in stoei was ’n silwermedalje in vrystyl by verlede jaar se Afrikaspele.

Human moedig ander stoeiers aan om aan te hou oefen, selfs wanneer dinge nie volgens plan verloop nie.

“Dinge gaan nie altyd na jou kant toe draai nie. Maar as jy lank genoeg aanhou oefen en beter raak, sal jy uiteindelik bo uitkom.”

Hy het bygevoeg dat hy eers op 15-jarige ouderdom sy eerste Suid-Afrikaanse kampioenskap gewen het, waarna sy prestasies net verbeter het.

Human se doelwit vir die komende kampioenskap is om ’n medalje te wen.

“Ek voel geëerd om my land, my provinsie en my dorp op internasionale vlak te verteenwoordig,” het hy afgesluit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button