EHS aangewys as Mpumalanga se beste rugbyskool
Hoërskool Ermelo is tydens die Mpumalanga Rugbyunie se jaarlikse prysuitdeling as die provinsie se Rugbyskool vir 2026 aangewys.
Hoërskool Ermelo is tydens die Mpumalanga Rugbyunie se jaarlikse prysuitdeling as die provinsie se Rugbyskool vir 2026 aangewys.
Die erkenning volg op ’n suksesvolle seisoen waarin EHS se rugbyspanne in verskeie kompetisies presteer het.
EHS het vanjaar in die Bowl-afdeling van die Noordvaalliga meegeding – die grootste afdeling in die kompetisie – met 12 skole wat om die titel meegeding het.

Die skool het eerste in die afdeling geëindig, bo Potchefstroom Gimnasium, en het daarmee opbeweeg na die Skildafdeling vir die 2027-seisoen. Volgens die skool het al die rugbyspanne ’n bydrae tot dié prestasie gelewer.
Onder die seisoen se hoogtepunte was die o. 14A- en o. 15A-span, wat albei onoorwonne in die Noordvaalliga gebly en die Noordvaalbeker verower het.
Die o. 16A-span en die eerste span het ook tot die kwarteindronde van die Noordvaalliga gevorder.
EHS het verder in die NWU-reeks presteer, waar vyf spanne as reekswenners geëindig het en nog twee spanne naaswenners was.



