Twee verdagtes ná beweerde poging tot koperdiefstal vasgetrek
Twee verdagtes is in die vroeë oggendure van 1 Julie aangekeer nadat hulle glo koperkabels wou steel. Hulle is op die toneel vasgetrek en aan die SAPD oorhandig vir verdere ondersoek.
ERMELO – Twee verdagtes is op 1 Julie deur reaksielede van Spartan Training & Security aangekeer nadat hulle na bewering koperkabels probeer steel het.
Volgens Jaco Kirk van Spartan was veiligheidsbeamptes besig met roetinepatrollies toe hulle verdagte optrede opgemerk het wat na bewering met ‘n poging tot koperdiefstal verband gehou het
Die reaksiespan het onmiddellik opgetree en twee verdagtes op die toneel aangekeer.
Die verdagtes is daarna aan die polisie oorhandig vir verdere ondersoek en die nodige regsproses.
Spartan Training & Security het sy beamptes geloof vir hul waaksaamheid, vinnige optrede en professionaliteit tydens die voorval.
Die omstandighede rondom die beweerde koperdiefstal sal deel vorm van die polisie se ondersoek.



