Bejaarde inwoners van Ermelo besteel, waarsku gemeenskap teen tuindienste
Hulle vermoed wel dat die gereedskap dalk in die groot vullissakke gegooi is, en so uit hul erf geneem is.
ERMELO – Twee bejaarde inwoners van die dorp het onlangs skade gely nadat tuingereedskap uit hul buitekamer gesteel is.
Hulle maak weekliks van tuindienste gebruik om hul tuin in stand te hou en die werkers maak gebruik van die kragproppe in die buitekamer.
Die vrou het gesê dat sy weekliks voordat die mense daar aankom, buitekamer toe gaan om te verseker dat hul gereedskap steeds daar is.
Op 22 November, nadat die tuindienste soos oudergewoonte hul sakke gepak en die tuinrommel verwyder het, het sy opgemerk dat die gereedskap skoonveld was.
Die inwoners het die eienaar oor die vermiste goedere gekontak. Hy het hulle net ingelig dat daar geen vreemde gereedskap op sy waentjie was nie.
Hulle vermoed wel dat die gereedskap dalk in die groot vullissakke gegooi is, en so uit hul erf geneem is.
“Ek kan nie sê hulle het dit gevat het nie, want ek het hulle nie gesien nie, maar in die tyd was daar niemand anders by ons huis nie,” het die inwoner gesê.
Twee harke, twee grawe, ’n spitvurk, ‘n snoeiskêr, C-klampe, ‘n handbyl asook ’n waterpomptang is vermoedelik gesteel.
Die inwoners het die volgende dag die saak by die polisie aangemeld.
“Ons wil niemand se naam sleg maak nie, maar wil ander inwoners waarsku om meer waaksaam te wees wanneer diensverskaffers hul huise besoek.”



