Saak teen verdagte van dubbele moord word uitgestel in Ermelo Landroshof
Acsu Sekuriteit en die Ermelo SAPD het die verdagte op die ongelukstoneel in verband met die dubbele moord, poging tot moord, huisroof en diefstal van 'n motorvoertuig, in hegtenis geneem.
ERMELO – Die verdagte van die moord op Robert Arthur James (59) en Bangon Roopsai (50), Vincent Madonsela (29), het op 10 Maart in die hof verskyn vir die uitspraak van sy borgaansoek.
Hy is nie borg toegestaan nie, en sy saak is uitgestel na 20 Maart.
Die Ermelo SAPD se woordvoerder, kapt. Carla Prinsloo, sê dat die polisie op 18 Februarie ‘n klag van huisroof in Sluiterstraat ontvang het.
Hulle het die twee inwoners dood op die toneel aangetref, asook James se beseerde 25-jarige seun, Eugene, en dié se 20-jarige vriendin.
Madonsela het van die toneel af in die rigting van Amsterdam in ‘n wit Volkswagen Polo, wat aan een van die slagoffers behoort het, gevlug.
“Hy was ongeveer 10 km buite Ermelo in ‘n ongeluk met ‘n ander voertuig betrokke.”
Acsu Sekuriteit en die Ermelo SAPD het die verdagte op die ongelukstoneel in verband met die dubbele moord, poging tot moord, huisroof en diefstal van ‘n motorvoertuig, in hegtenis geneem.
Madonsela het op 20 Februarie sy eerste verskyning in die hof gemaak.



