Verdagtes word gesoek rondom plofstof wat in Ermelo gevind is
Die polisie is steeds besig met ’n ondersoek in verband met hierdie ontdekking. Deel hiervan fokus op ’n persoon of persone wat moontlik die plofstof kon versteek het.
ERMELO – Die lede van die dorp se misdaadsintelligensie-eenheid het inligting ontvang wat op 23 Junie tot die ontdekking van kommersiële en militêre plofstof wat by die Douglasdam weggesteek is, bygedra het.
Die operasie is deur die K9-eenheid van Ermelo, Standerton en Witrivier uitgevoer.
Met die aankoms op die toneel het die eenhede op drie sakke wat begrawe is, afgekom. Met die oopmaak van die sakke het hulle die plofstof ontdek, waarop hulle beslag gelê het.
Die polisie is steeds besig met ’n ondersoek in verband met hierdie ontdekking. Deel hiervan fokus op ’n persoon of persone wat moontlik die plofstof kon versteek het.
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting om 08600 10111 te skakel. Alternatief kan die inligting op die My SAPS-toep gestuur word. Alle inligting sal vertroulik hanteer word en informante kan kies om anoniem te bly.
Lt.gnl. Semakaleng Manamela, die provinsiale polisiekommissaris, het alle rolspelers vir hul positiewe bydrae en betrokkenheid bedank.
Sy het die ontdekking as ’n geleentheid gebruik om die publiek te waarsku oor die nagevolge van plofstof.
“Ons doen ’n beroep op lede van die publiek, veral kinders, om weg te bly van verdagte voorwerpe of items waarop hulle mag afkom, aangesien dit hul lewens in gevaar kan stel. Die owerhede moet eerder dadelik in kennis gestel word. Noudat skole vir die winter sluit, doen ons ’n beroep op ouers om met hul kinders te praat om beserings of selfs erger situasies te voorkom. Alhoewel niemand in hegtenis geneem is nie, is die belangrikste dat die oefening moontlik enige lewensverlies verhoed het,” sê Manamela.



