Crime

Acsu stuit vermeende dwelmhandelaars in hul spore

Die Valke het op die dagga en die twee voertuie beslag gelê. Die verdagtes is gearresteer en het op 4 Augustus in die Ermelo-distrikshof verskyn.

ERMELO – Acsu Sekuriteit het op 2 Augustus twee verdagtes in die Lothair-polisiëringsgebied in besit van dagga betrap en in hegtenis geneem.

Volgens Bester Maree van Acsu het hulle inligting aangaande ’n Ford Ranger-bakkie met sakke saamgeperste dagga ontvang en dadelik daarop gereageer.

’n Wit Toyota Corolla, wat die bakkie begelei het, is ook vasgetrek en in beslag geneem.

Gedurende die arrestasie het die verdagtes na bewering probeer om die sekuriteitspersoneel met ’n bedrag van R19 250 om te koop, maar die personeel het hul integriteit behou en geweier om die geld te aanvaar.

Die Secunda-gebaseerde Valke se Suid-Afrikaanse Narkotiese Handhawingsburo is na die misdaadtoneel ontbied saam met die Ermelo Plaaslike Kriminele Rekordsentrum, en van Lothair se SAPD-lede het by Acsu aangesluit.

In die voertuig is daar 52 saamgeperste sakke dagga van 650 kg met ’n geraamde waarde van R2,25 miljoen gevind.

Die Valke het op die dagga en die twee voertuie beslag gelê. Die verdagtes is gearresteer en het op 4 Augustus in die Ermelo-distrikshof verskyn.

Sibusiso Themba Mkhotfo (40) en Sbusiso Engine Dladla (41) word steeds in aanhouding gehou, en die saak is tot Dinsdag uitgestel. Die hof het verklarings van binnelandse sake oor die twee verdagtes se status in die land aangevra.

Die Valke se provinsiale hoof, genl.maj. Nico Gerber, het ’n streng waarskuwing aan alle dwelmhandelaars gerig dat Mpumalanga nie ’n vrye deurlaat daarvoor is nie. Hy het die publiek verder versoek om die polisie te ondersteun deur kriminele aktiwiteite in hul omgewing aan hulle aan te meld.

Related Articles

 
Back to top button