KYK: Ermelo-inwoner deel foto’s van beweerde onveilige praktyke by Msukaligwa
Die inwoner het sy kommer uitgespreek oor die veiligheid van werkers en besoekers by die plaaslike owerheid se gebou.
ERMELO – ’n Bekommerde inwoner het Hoëvelder geskakel om sy frustrasies uit te spreek oor die herstelwerk en verf van die Msukaligwa Plaaslike Owerheid se gebou.
Hy het die koste verbonde aan hierdie projekte bevraagteken, asook wie eintlik vir die betaling daarvoor verantwoordelik is.

In sy klagte spreek hy sy twyfel uit oor die doeltreffendheid van belastingbetalers se geld en waaraan dit bestee word te midde van verskeie munisipale kwessies wat nie die gewenste aandag geniet nie.
Verder het hy ook oor die beweerde gebrek aan toepassing van veiligheidsmaatreëls en riglyne en die bevoegdheid van die kontrakteurs wat by die werk betrokke is, uitgelig.

Hy spreek sy kommer uit oor die veiligheid van werkers en besoekers by die plaaslike owerheid, en het foto’s verskaf van ’n werker op ’n leer op die dak wat beweerdelik nie beveilig is nie.
Die foto’s wys ook drie ander mense op die dak, waarvan geeneen die leer deeglik in plek vashou nie.
Uit die foto’s blyk dit of hulle bloot op die dak rondstaan sonder enige veiligheidstoerusting wat hulle daaraan anker.
Hoëvelder het aan Mandla Zwane, die plaaslike owerheid se woordvoerder, navrae hieroor gestuur, en wag op sy antwoord.



