Morgenzon inwoner: “Die water is al vir twee weke bruin met ’n sout nasmaak”
Hy het die inwoner aangeraai om hul adres te voorsien sodat hulle watergehalte individueel nagegaan kan word en deeglik ondersoek kan word.

HOëVELD – Watergehalte in Ermelo en Morgenzon het weer vandeesweek onder die loep gekom nadat videos op WhatsApp-groepe die ronde gedoen het van vuil water.
’n Inwoner van Morgenzon, Juliana Loots, het video’s gestuur van vuil water wat volgens haar reeds vir die afgelope twee weke uit beide die warm én koue krane kom.
Sy het ook genoem dat sy, nadat die water se voorkoms effens verbeter het, ’n sout smaak opgemerk het toe sy een oggend haar tande geborsel het.
Dit is nie die eerste keer dat sulke vuil water in Kleynhansstraat, waar sy woon, gemeld word nie – die Hoëvelder het in die verlede ook oor ’n soortgelyke klagte hier berig.

Soortgelyk, het videos van ’n Ermelo-inwoner water wat geel is gewys. Volgens die inwoner is dit gewoonlik wanneer hulle die kouekraan oopmaak wat die water óf geel óf bruin is.
Foto’s wat voorheen ook deur ’n bekommerde dorpenaar in dieselfde straat ingestuur is, vertel dié storie; die water was bruin, wolkerig en vol sediment wat sigbaar op die oppervlak is en onder in die glas gelê het.
Die inwoner het haar diepe kommer uitgespreek oor die moontlike gesondheidsrisiko’s wat die gebruik van hierdie water kan inhou.
By vorige navrae het Majenge, ontken dat daar fout is met Morgenzon se watergehalte en het gesê dat dit voldoen aan SANS 241-standaarde.

Hy het aan ook aan Hoëvelder ‘n foto en video van ‘n glas met skynbaar skoon water gestuur om die gehalte daarvan te bevestig, asook ‘n video van skoon water uit ‘n kraan – dit is nie aangedui waar die video opgeneem is nie.
Volgens hom is ‘n noodsaaklikheidstudie opgestel om finansiering vir die opgradering van die Morgenzon- waterbehandelingsaanleg te bekom. As voorsorgmaatreël het hy inwoners aangeraai om steeds die water voor gebruik te kook.
Volgens hom het die plaaslike owerheid op 23 Januarie met ‘n bakkie met luidsprekers deur Standerton en Morgenzon aangekondig dat inwoners, weens die deurdringende reën en vloede, as ‘n voorsorgmaatreël hulle water voor gebruik moet kook.
Die vloedwater kan bakterieë, virusse en ander skadelike mikro-organismes in die waterstelsel ingevoer het, wat deur vuil water, rioolafvloei, landbouchemikalieë en ander besoedelmiddels veroorsaak kan word.
Toe hy gevra is of die plaaslike owerheid vóór die koerant se navrae van die problematiese watergehalte bewus was, het Majenge erken dat daar uitdagings met watervoorsiening is, maar aangedui dat daar geen klagtes van watergehalteprobleme in Morgenzon by hulle ingedien is nie.
Hy het die inwoner wat die foto’s en videos van die water gedeel het, aangeraai om hul adres te voorsien sodat hulle watergehalte individueel nagegaan kan word en deeglik ondersoek kan word.
“Dit sal die plaaslike owerheid help om die oorsaak te identifiseer en enige probleem wat gevind word reg te stel.”
Hoëvelder het weer met die nuutste videos wat gedeel is verder navrae aan Majenge gerig, en wag op terugvoering.
AfriForum het in ’n skrywe hierdie kwessies aan die provinsiale Departement van Water en Sanitasie gerig.
“Die organisasie sal voortgaan om druk op die owerhede te plaas en aanmoedig dat samewerking met plaaslike AfriForum-takke plaasvind om diensleweringsuitdagings in die provinsie aan te spreek.”
Bekker het ook onderneem om skrywe te rig aan die Lekwa Plaaslike Owerheid.



