DA weier om Msukaligwa se 2025-begroting te steun
Gemeenskapsvrae bly onbeantwoord, terwyl bekommernisse oor finansiële volhoubaarheid en dienslewering steeds toeneem.
ERMELO – Die DA het op 30 Mei aangekondig dat hulle nie die voorgestelde 2025/26-begroting van die Msukaligwa Plaaslike Owerheid kan goedkeur nie.
Volgens die party is die begroting onbevonds, onuitvoerbaar en gebrekkig weens onvoldoende openbare deelname.
DA-raadslid JJ Scholtz sê die party is bekommerd oor die gebrek aan finansiële volhoubaarheid en die swak uitvoering van die konsultasieproses.
“Ons glo behoorlike sorg en deeglike prosesse is nie nagekom tydens die konsultasiefase nie, wat sinvolle betrokkenheid van belanghebbendes en openbare deelname ondermyn het,” het hy gesê.
Verder het die DA hul kommer oor die voorgestelde tariefverhogings uitgespreek, wat volgens hulle onrealisties is en ’n swaar finansiële las op inwoners plaas.
“Hierdie verhogings is nie lewensvatbaar vir verbruikers nie en kan ’n onredelike las op inwoners plaas,” het Scholtz bygevoeg.
Tydens ’n openbare vergadering op 13 Mei by African Sky (Ermelo Inn) is verskeie kwessies uitgelig wat steeds nie deur die plaaslike owerheid aangespreek is nie, onder andere:
- Die doel en berekening van die basiese elektrisiteitsfooi, en waarom dit nie ’n persentasie van maandelikse verbruik is nie.
- Die versoek van Hoërskool Ermelo om die Petdam-geriewe by hulle terrein vir ’n binnenshuise fasiliteit in te sluit, wat na drie jaar nog nie die raad bereik het nie.
- Die aansoek om Sports Inn te privatiseer of te onderhou, wat al vyf jaar lank onopgeklaar is.
- Die gebrek aan toeganklike infrastruktuur veral met gestremde persone in gedagte, wat ook ononderhoude voetpaaie insluit.
- Onduidelikheid oor die aantal voltydse werknemers by die plaaslike owerheid en ’n uiteensetting van hul salarisse.
- Onbeantwoorde vrae oor die administrasie van sportfasiliteite en huurkontrakte, onder andere waar daar sprake van historiese skuld, privaat beleggings en ’n gebrek aan deursigtige dokumentasie is.
- Voortgesette bedrywighede van onwettige myne, ondanks openbare blootstelling en verslae daaroor.
- Afwesigheid van belangrike plaaslike verordeninge en die toepassing daarvan met betrekking tot onwettige storting, verkeerreëls en drankgebruik in die publiek/openbaar.
- Onveranderd gebrekkige toestand van Havengaweg en die onvermoë van owerhede om die situasie te verbeter.
- Waarom die 2013-deurgangsprojek steeds nie voltooi is nie, ondanks dit wat ‘op die kaarte’ was.
- Regverdiging vir die geskatte koste van R90 miljoen per kilometer vir padherstelwerke.
- Nuut geïnstalleerde LED-straatligte in Camdenlaan wat egter nie funksioneer nie.
- Versuim om stormwaterdreinering behoorlik te onderhou, wat oorstromingsrisiko’s verhoog.
- Gebrekkige samewerking tussen plaaslike owerheid en wetstoepassing oor mense wat in stormwaterdreine woon.
- Gebruik van duur, ondoeltreffende slaggatherstelsmetodes ondanks beter alternatiewe.
Scholtz het die munisipaliteit versoek om terug te keer na ’n benadering wat eerlik, inklusief en realisties is.
“Die publiek verdien ’n begroting wat hul werklike behoeftes weerspieël, nie blote beloftes sonder uitvoering nie,” het hy gesê.
Die DA bly oop vir toekomstige gesprekke, mits daar werklike hervormings en ’n toewyding tot dienslewering plaasvind wat die gemeenskap se vertroue kan herwin.



