Ermelo-dogter wen twee goue medaljes ondanks seldsame diagnose
Tydens verlede jaar se 80 m-wedloop het sy ’n puik wegsprong gehad, maar het kort daarna getuimel.
ERMELO – Megan Herbst (11) het onlangs alle verwagtinge oortref toe sy twee goue medaljes tydens Laerskool JJ van der Merwe se interhuisatletiek losgehardloop het.
Sy is op 10 Junie 2021 met sistemiese jeug- idiopatiese artritis en makrofage-aktiveringsindroom gediagnoseer.
Megan, wat ’n kranige atleet was, het verlede jaar weer vir die eerste keer sedert haar diagnose besluit om haar hardloopskoene aan te trek.
Tydens verlede jaar se 80 m-wedloop het sy ’n puik wegsprong gehad, maar het kort daarna getuimel.
“So gaan my gedagtes 365 dae terug en ek onthou ’n siek dogtertjie wat met alle mag aan al die velditems wou deelneem, al kon sy skaars haar arms optel,” het ma, Jolene, vertel.
Tydens die onlangse atletiek, het sy ’n mooi wegsprong gehad, maar by die 60 m-merker kon ‘n mens sien haar lyfie is moeg. Sy het ten spyte daarvan derde plek ingeneem.
Daarna pak sy die 75 m-hekkie-item aan, maar haar tree was uit en sy trippel-trippel tussen die hekkies om vierde te eindig. Een voet het ’n hekkie getref en was blou, velaf en baie seer.
Megan se ouers het hul asem opgehou met die wegsprong by die 100 m-uitdunne, waar hulle in hul geestesoog die vorige jaar se val weer herleef het.
Sy het egter tweede geëindig. In die eindronde van dié wedloop het Megan die oorwinning met millisekondes behaal.
Megan het in die 150 m goud verower.
Kort na Megan se diagnose is die verwagting geskep dat sy nooit weer kompeterend aan enige sportsoort sou kon deelneem nie, maar vanjaar het sy die teendeel bewys.
Lees die volledige berig in die Hoëvelder.



