Ermeloërs in rou gedompel oor “Worsie” se dood
Wehmeyer, of “Worsie” soos hy aan baie dorpenaars en sy vriende bekend was, was by Autoboys werksaam.
ERMELO – Stefan Wehmeyer (31) is op 5 Februarie naby die Bull Ring, sowat 20 km uit op die Bethal-pad, in ’n noodlottige ongeluk met ’n vragmotor oorlede.
Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.
Wehmeyer, of “Worsie” soos hy aan baie dorpenaars en sy vriende bekend was, was by Autoboys werksaam.
Oorspronklik van Westonaria, het hy aan Hoërskool Jan Viljoen in Randfontein matrikuleer.
Sy boesemvriend, Wiekus Pretorius, sê dat beide hy en Wehmeyer sowat 10 jaar gelede van die stad af Ermelo toe verhuis het – hy van Pretoria en Wehmeyer van Randfontein.
“Ons ondernemings was langs mekaar s’n en ons het niemand hier geken nie, só het ons maar met mekaar bevriend geraak.”
Dit was volgens hom ’n geval van twee stadsjapies wat eindelik op ’n klein dorpie beste vriende geword het.
Volgens ’n emosionele Pretorius was Wehmeyer ’n een-uit-’n-miljoen soort vriend wat alles sou opoffer, nie net vir sy vriende en familie nie, maar ook vir sy medemens in die algemeen.
“Stefan was nie die tipe mens wat jou sou belas met sy probleme nie. Hy was behulpsaan, spontaan, ’n grapgat, hy was ’n terggees en sou altyd iets tong-in-die-kies sê wat jou maak lag het. Hy was nie ’n veeleisende mens of vriend gewees nie; daar was geen vereistes aan sy vriendskap nie.”
Pretorius sê dat Wehmeyer ’n baie belangrike lewensles aan almal nagelaat het. “Hy was altyd van mening dat vriendelikheid meer werd as geld is.”
Lees die volledige berig in Hoëvelder.



