Local news

Twee dood buite Ermelo nadat hul vermoedelik skote op vragmotor afvuur

Die bakkie se insittendes het na bewering die vragmotor net buite die dorp van die pad af probeer dwing deur skote op dit af te vuur.

ERMELO – Twee mans is dood toe ’n vragmotor en bakkie Saterdag in ’n ongeluk op die N2 betrokke was.

Volgens sers. Patricia Msezane, waarnemende woordvoerder van die Ermelo-polisie, het die bakkie se insittendes skote op die vragmotor afgevuur.

Die bestuurder het beheer oor die vragmotor, wat steenkool vervoer het, verloor, en het op die bakkie omgeslaan.

Nooddienste is na die toneel ontbied.

ER24 het die vragmotorbestuurder op die toneel vir kopbeserings behandel.

Hy is na die Ermelo Mediclinic vir verdere behandeling geneem.

Van Wettens se insleepdienste moes die vrag steenkool verwyder voordat die vragmotor opgelig kon word en lede van Msukaligwa se brand- en reddingswerke, ER24 en ander rolspelers toegang tot die bakkie kon verkry.

Die twee mans in die bakkie is op die toneel dood verklaar.

Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

Related Articles

Back to top button