OPVOLG: Lothair polisie reageer op bewerings dat polisielede glo rolstoelgebruiker uitlag
Sy beweer dat die polisie in die sentrum gehardloop het om te help en dat die gestremde parkering die enigste parkeerplek was, wat op daardie stadium beskikbaar was.

ERMELO – Kort nadat die Hoëvelder se berig verskyn het oor polisielede wat glo ‘n ontstoke inwoner wat van ‘n rolstoel gebruik maak klaarblyklik uitgelag het, het die woordvoerder van Lothair se polisie op die navrae oor die insident gereageer.
Volgens die woordvoerder was die twee Lothair SAPD-polisiebeamptes op die dag van die parkeervoorval aan diens.
“Volgens hulle is hulle met hul aankoms by die Ermelo Merino-winkelsentrum deur ‘n vrou genader wat gesê het haar handsak is pas in die sentrum gegryp. Sy het die verdagte aan hulle beskryf,” het die woordvoerder gesê.
LEES OOK: Polisie lag inwoner glo uit oor gestremde parkeerplek in Ermelo
Sy beweer dat die polisie in die sentrum ingehardloop het om te help en dat die parkeerplek vir gestremdes die enigste parkeerplek was wat op daardie stadium beskikbaar was.
Hulle het verder ontken dat iemand hulle genader het oor die parkering totdat hulle vertrek het.
Hoëvelder het egter ongeruimdhede in die terugvoer opgetel en verdere navrae aan die polisie gestuur. Hoëvelder wag ook vir terugvoer van die winkelsentrum oor die gebeure van die dag.
Lees die opvolgberig in volgende week se Hoëvelder.



