Oud- Ermeloër neem aan Kokkedoor Vuur & Vlam deel
Joubert het saam sy susterskind, Lara van der Merwe, vir die program ingeskryf om te bepaal wie die land se bobaasbraaier is.
ERMELO – ’n Oudinwoner, Joubert Spies, het onlangs aan die nuutste reeks van Kokkedoor Vuur & Vlam deelgeneem.
Altesaam 20 deelnemers van regoor die land neem hieraan deel om te bepaal wie die land se bobaasbraaier is.
Hoëvelder wou meer uitvind oor waarom hy vir Kokkedoor ingeskryf het, aangesien sy ervaring in die kosmaakbedryf voor die program net so ver as ’n tweede plek in ’n kerkbasaar se koekversierkompetisie gestrek het.
Hy sê dat kosmaak vir hom maar nog altyd beteken het dat hy die sjef op hul jagtogte was.
“Ek en Lara van der Merwe, my susterskind, het aanvanklik saam as ’n span vir Kokkedoor ingeskryf nadat haar ma, Carika, dit aanbeveel het. Lara het onlangs haar graad voltooi, en ek wou haar help om haar loopbaan aan die gang te kry. Vir my was dit omdat dit oor ’n braaivleisvuur gegaan het, wat so reg in my kraal is,” het Spies gesê.
Vir hom was dit ’n voorreg om deel van die produksie te wees. Hy sê hulle het die beste span gehad wat na hulle omgesien het.

“Bestanddele, die toerusting en sommer alles was van uitsonderlike gehalte. Met al die deelnemers se sterk profiele het ek nogal heeltemal uit my plek gevoel, en geweet hierdie gaan nie maklik wees nie. Wat almal nie weet nie is dat die deelnemers vinnig ’n hegte band gesmee het en baie lekker saam met mekaar gekuier het.”
Een van sy hoogtepunte in die reeks was om die steakbraai saam met een van die deelnemers, Cindy Menigo, in episode vyf te doen, en een van die moeilikste uitdagings was die asbraai in episode vier.
Voor die reeks begin het, het Spies nog nooit ’n brood gebak nie, maar die oggend van die Kaapse oudisie moes hy ’n ciabatta bak, waarvoor hy baie komplimente gekry het.

Sy gunstelinggereg om te maak is kerrieskaapafval, en hy maak dit gereeld. Selfs mense wat voorheen hul neuse daarvoor opgetrek het, het met hierdie dis selfs ’n tweede happie gaan skep.
Spies sê hoewel hy gereeld by die huis kosmaak omdat dit hom laat ontspan, dat sy vrou ook nie bang vir die potte is nie.
Sy raad aan jong mense met ’n liefde vir kosmaak is om die kos wat vir hulle lekker is te maak, en nie volgens ander mense se voorkeure te gaan nie.
“As jy tevrede is met ’n bord kos en dit is vir jou lekker, sal dit altyd vir iemand anders ook lekker wees. Proe altyd terwyl jy kosmaak, want later kom dit natuurlik vir jou om te weet watter geure met mekaar werk” het hy gesê.
Lees die volledige berig in Hoëvelder.



