VF+ raadslid dien klag by polisie in oor Ermelo se besoedelde waterbronne
Die oorloop van die Petdam na die Klein Drinkwaterstroom, loop dan uiteindelik in die reeds hoogs besoedelde Vaalrivier in.
ERMELO – Die dorp is besig om gebukkend onder ’n ernstige omgewingskrisis te gaan, aangesien rioolbesoedeling sy belangrike waterbronne bedreig.
Die inwoners vrees vir hulle gesondheid en die welstand van die plaaslike ekostelsel.
Die VF Plus neem regstappe
Die VF Plus het op 7 September ’n formele klag by die polisie ingedien, rakende die voortgesette rioolbesoedeling van waterbronne binne die Msukaligwa Plaaslike Owerheid, wat die dorp en omliggende gebiede insluit. Die primêre oorsaak van hierdie besoedeling, soos deur die VF Plus gestel, word aan swak en nalatige munisipale bestuur toegeskryf.
Die klag is teen Maqhawe Kunene, die munisipale bestuurder van Msukaligwa, gerig, wat as die rekenpligtige beampte van die munisipaliteit beskou word, asook Precious Zodwa Duma, die direkteur van tegniese dienste, onder wie se departement en bevoegdheid rioolverwydering val.
Ermelo-gemeenskap besorgd oor hul gesondheid
Die gemeenskap van Ermelo vrees vir hul gesondheid en die ernstige skade aan die plaaslike ekostelsel weens onbehandelde riool wat vanaf rioolpype en verstopte dreine in ’n plaaslike vleiland vloei.

Hierdie vleiland voed die Petdam, en afgesien van die spoor van besoedeling en dood wat dit in die natuur agterlaat, sluit die oorloop van hierdie dam by die Klein Drinkwaterstroom aan, wat uiteindelik in die reeds hoogs besoedelde Vaalrivier beland.
Die plaaslike VF Plus-raadslid, Shobie Arnoldi, het gesê: “Gegewe die cholera-uitbraak wat onlangs in Gauteng aangemeld is, is dit uiters kommerwekkend dat hierdie hoë vlakke van rou riool deur etlike nedersettings en landbougebiede stroomaf vloei.”
Die VF Plus se stappe om aksie te forseer
Die VF Plus het volgens Arnoldi reeds sedert September 2022 verskeie skrywes aan beide die munisipale bestuurder en die speaker, Ntombifuthi Xaba, gerig, waarin die rioolbesoedeling uitgelig is.
Daar was geen reaksie hierop nie. Die VF Plus het ook sy kommer oor die besoedeling tydens ’n algemene raadsvergadering in Augustus uitgespreek. Verskeie verdere versoeke om optrede is egter blatant geïgnoreer.
SIEN OOK: GALLERY – Ermelo chokes on sewage stench amid municipal project
Volgens Mandla Zwane, woordvoerder van die Msukaligwa Plaaslike Owerheid, is die Petdam een van die kwessies op die prioriteitslys van die munisipale bestuurder.
Die besonderhede oor die herstel van die dam sal binnekort met betrokke partye, insluitende die media gedeel word.
“Mense moet asb ook kennis neem dat die water van die Petdam nie vir menslike gerbruik bedoel is nie, maar vir ontspanningsdoeleindes. Die munisipaliteit wil graag sy onvoorwaardelike verskoning aan die gebruikers van die Petdam aanbied vir die ongerief wat deur die huidige situasie veroorsaak word.”
Lees die volledige berig in Hoëvelder.



