‘n Straal van hoop vir kinders met serebrale gestremdheid in Ermelo
Gerda Smuts kon nie net sit en wag vir hulp nie, en het met die plan na vore gekom om self looprame te ontwerp.
ERMELO – Na weke se navorsing en pleidooie om hulp vir kinders met serebrale gestremdheid, het Gerda Smuts van Prism Training Centre for Special Needs besluit om die handdoek nie in te gooi nie.
Sy het met ’n blink plan vorendag gekom.
Vir die kinders met serebrale gestremdheid by Prism is dit noodsaaklik om hulle van ’n loopring te voorsien, wat hulle in staat stel om hul spiere te oefen en die vryheid te gee om rond te beweeg.
Smuts het verskeie groepe om mediese loopringe genader, maar met die kostes van sowat R6 000 tot R8 000 elk, het sy en ’n paar ander mense met die idee opgekom om self iets soortgelyks te bou.
“Ons het ons eerste prototipe met die hulp en hartklop van Storm Plumbing se Andries en Samantha Ross-Allen gemaak, wat ons gehelp met om die raam te bou,” het Smuts gesê.
Hulle het eers ’n gewone loopring probeer gebruik, maar die kinders was te swaar, en hulle het iets sterkers nodig gehad.
Nadat die span die raam gebou het, het Smuts met die sitplek rondgespeel, en ná ure se bid en die Here se hulp vra, het sy die idee gehad om ’n babadraer in die perfekte sitplek vir die loopring te omskep.
“Dit het perfek gewerk en bied die nodige gemak en ondersteuning aan die kind, en dit was vir my ’n fees om een van hulle vir die eerste keer te sien rondbeweeg.”
Die loopring het Smuts sowat R500 gekos om te maak, en sy beplan om vir haar anders kinders ook elkeen te maak.
Smuts is nog op soek na hulp vir ’n addisionele klaskamer om haar serebrale gestremdes van die ander te skei om hulle sodoende meer ruimte te bied om rond te beweeg.
Enigiemand wat die skool kan ondersteun, kan Smuts by 084 427 9730 skakel.



