Local news

Gesin van tweejarige vra vir gebede na fratsongeluk in Ermelo

Klein Arno moet vir 14 dae in traksie lê sodat dokters kan kyk of die beentjie mooi heg.

ERMELO – ’n Tweejarige seuntjie is op Maandag 25 September in die Ermelo Hospitaal met ’n gebreekte linkerbeen opgeneem, nadat hy in ’n motorfietsbotsing betrokke was.

Arno Dicks, sy ouer boetie, en ’n maatjie het op Erfenisdag buite baljaar en motorfiets gery.

Hoewel daar gerugte was dat die seuns in die dorp met die motorfiets rondgery het, het Michael daarop reageer,

“Nee, dit is nie waar nie. Ons bly buite die dorp, die kinders het op die erf motorfiets gery.”

Ouboet het wel met sy motorfiets buite die erf gery, terwyl klein Arno en die maatjie op die erf rondgespeel het.

Uit nuuskierigheid om te sien waar ouboet rondry, het Arno by die hek, wat nie mooi toegemaak was nie, uitgegaan.

Hy het agter ’n ry roosbome gestaan en gekyk hoe sy boetie motorfiets ry. Toe ouboet nader aan die draai kom, onbewus van sy klein boetie wat daar staan, het Arno voor hom ingespring.

Ouboet het geskrik en dadelik uitgeswaai, maar hy het Arno met sy knie getref, en albei het met die slag gerol.

Klein Arno lag vir sy boetie tydens besoektyd. Foto | Verskaf

Hy het dadelik vir Arno opgetel en na sy ouers toe gehardloop en om hulp geskree.

Arno se ouers het met hom Ermelo Mediclinic toe gejaag. Weens finansiële omstandighede, is hy na die provinsiale hospitaal oorgeplaas waar hy vir observasie opgeneem is.

Die mediese personeel was bekommerd oor Arno se ogie wat ook seergekry het, en hulle het hom vir ’n CT-skandering gestuur om te kyk of daar enige breinskade is.

Daar was egter geen skade nie.

“Die hospitaal kyk regtig mooi na my kind.” sê Michael.

Hy het later bevestig dat klein Arno vir 14 dae in traksie moet lê, sodat die dokter kan kyk of die beentjie mooi heg.

Indien nie, sal daar geopereer moet word.

Lees die volledige berig in Hoëvelder.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button