Local news

Ermelo-pa goed op die herstelpad na armamputasie

Hoewel hy dankbaar is dat hy nog lewe, sê hy hy is by tye baie teneergedruk, veral wanneer sy ‘arm’ pyn.

Hennie Janse van Rensburg, wat op 9 September sy arm tydens ’n gru-ongeluk op die Breyten-pad verloor het, is terug by die huis en herstel goed.

Sy regterarm is net bo die skouer geamputeer, nadat hy in ’n ongeluk betrokke was.

Hy het sy arm buite die venster laat rus; dit is  in die ongeluk tussen sy bakkie en ’n vragmotor vasgevang, gedeeltelik afgeruk en vergruis.

Die nooddienste moes die pad daardie oggend sluit, omdat daar ’n stuk van sy arm gelê het.

Janse van Rensburg is Ermelo Hospitaal toe geneem en sy arm is later die dag geamputeer.

’n Maand later is hy terug by die huis saam met sy vrou en kinders en het onlangs sy 39ste verjaardag gevier. Hoewel almal dankbaar is dat hy terug is, is dit ’n groot aanpassing vir hulle.

Die arm was sy dominante een, en hy moet nou van voor af met sy linkerhand leer skryf, vat en eet.

Die pad vorentoe is nog lank, maar hy sien kans vir die uitdaging. Die plan is om ’n prostese te kry sodat hy weer alledaagse take kan verrig, soos ligte goed optel, bestuur, bad en saam met sy dogtertjies pop te speel.

Hennie benodig egter R60 000 om ’n operasionele prostese by AC Potgieter Mediese Ortotis en Prostetis in Vereeniging te laat maak.

Die gesin versoek die Ermelo-gemeenskap om hul harte en beursies oop te maak sodat hy sy herstelpad vinniger kan aandurf.

As jy wil bydra om vir Hennie ’n nuwe arm te kry, gebruik die volgende bankbesonderhede: Rekeningnaam: Orthorpeadic Enterprises (Pty Ltd (t/a AC Potgieter), Nedbank Drie Riviere, Vereeniging, tjekrekeningnommer: 1001922158, verwysing: 984693.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button