Vryburger Omgeemense skenk watertenks aan SAVF-tehuis
Die tehuis was onlangs vir vier dae sonder water.
ERMELO – Die Vryburger Omgeemense van Ermelo het onlangs drie nuwe watertenks aan die SAVF-tehuis geskenk.
Volgens Billa van Wyk van dié omgeegroep help hulle graag die tehuis waar hulle kan om die las vir hulle bietjie ligter te maak.
Waldi Sieberhagen, die tehuis se bestuurder, het die groep vir die skenking bedank wat help met noodwater wanneer die tehuis nie water het nie.
Sy sê dat hulle onlangs vir vier dae sonder water was en dat hoewel dit na ’n kort tydperk klink, dit in die tehuis met meer as ’n 100 inwoners nag kan wees.
“Die toilette moet gespoel word en die gebou moet ten alle tye skoon gehou word om enige infeksie by die bejaarde inwoners te voorkom,” het Sieberhagen gesê.
Sy het haar dank teenoor die groep vir hul volgehoue ondersteuning bedank.



