Ermelo polisie waarsku inwoners oor hekmotordiefstal
Kaptein Carla Prinsloo, woordvoerder van die Ermelo polisie maan inwoners om ekstra voorsorg te tref om hul eiendom te beveilig.
ERMELO – Kaptein Carla Prinsloo, die woordvoerder van die Ermelo-polisie, het inwoners gewaarsku om bedag te wees ná ’n Centurion-hekmotor onlangs in Tom Mullerstraat gesteel is.
Prinsloo maan inwoners om ekstra voorsorg te tref om hul eiendom te beveilig.
Sy het in 2020 ’n soortgelyke versoek aan inwoners gerig nadat ’n reeks hekmotors gesteel is.
“Inwoners moet oorweeg om hul besonderhede op die hekmotors op ’n stukkie yster wat daaraan gemonteer kan word, te graveer of aan die binnekant van die plastiekomhulsel van die motor, aan te bring. Hoewel hierdie veiligheidsmaatreël nie die diefstal van die hekmotor mag voorkom nie, bemoeilik dit wel die verkoop daarvan.”
Die motief agter dié diefstalle blyk meestal te wees om die items vir skrootmetaal te verkoop.
Hoëvelder het ook al voorheen berig oor sommige inwoners wat hul hekmotors met steunarms aan die grond of binne die eiendom vasgeanker het, of ’n steunarm aan die bokant van die hek aangebring het, aangesien diewe maklik ’n hek van die spoor kan lig.
Lees die volledige berig in Hoëvelder.



