Local news

Ermelo atlete neem aan Assegaai Marathon deel

Die roete is ’n Comrades- en Two Oceans-kwalifiseerder.

Die Assegaai Marathonklub het die afgelope naweek ‘n 3-in-1-marathon aangebied wat afstande van 10 km, 21,1 km en 42,2 km ingesluit het.

Die klub het 478 inskrywings ontvang, maar 22 hiervan het nie aan die wedloop deelgeneem nie.

SIEN OOK: GALERY – Atlete laat waai by Assegaai 3-in-1

Altesaam 441 marathonatlete het hulle wedlope voltooi, met slegs 15 wat nie kon nie.

Cicile Erasmus en Andries Koekemoer van die Ermelo Atletiekklub. Foto | Wayne van der Walt

Die onderskeie wedlope het by die Piet Retief Rugbyklub begin. Die roete loop sowat 2 km in die dorp en die res daarvan uit op die R543 in die rigting van die Mahamba-grenspos.

Die atlete het rekkies ontvang wat deur wedloopbeamptes by die onderskeie draaipunte om hul polse geplaas is om te verseker dat hulle die volle afstande voltooi.

Atlete van die Shalom Marathon klub in eMkhondo. Foto | Wayne van der Walt

Die roete is ‘n Comrades- en Two Oceans-kwalifiseerder en is in Januarie verlede jaar deur die president van Atletiek Mpumalanga, Paul Bester, gemeet en goedgekeur.

Verskeie waterpunte het die wedloop vir die deelnemers beduidend makliker in die bloedige hitte en op ‘n hoogte van ongeveer 494 m bo seevlak gemaak.

Dit het veral vir atlete in die 42,2 km-wedloop ‘n uitdaging gebied.

Na afloop van hul onderskeie wedlope kon die atlete vir die beste georganiseerde waterpunt stem. Charka het in dié afdeling met die louere weggestap, met Mondi en PTA Petroleum in onderskeidelik tweede en derde plek.

Marathonatlete spring weg tydens die TWK Assegaai 3-in-1 Marathon. Foto | Wayne van der Walt

Ilse Nel, voorsitter van die Assegaai Marathonklub, het gesê: “‘n Geleentheid soos hierdie kos meer as R100 000 om te organiseer en te verwesenlik. Aangesien die klub as ‘n organisasie sonder winsoogmerk funksioneer, steun ons swaar op borgskap van die gemeenskap. Ons was gelukkig om soveel ondernemings te hê wat ons marathon finansieel ondersteun het.”

Nel het namens die Assegaai Marathonklub se bestuur hulle dank teenoor al die atlete wat aan die marathon deelgeneem het, uitgespreek, sowel as teenoor al die borge wat die dag moontlik gemaak het.

Lees die volledige berig in Hoëvelder.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Wayne van der Walt

Wayne van der Walt, with around 15 years in the media industry, is editor of Highvelder Newspaper. His accolades include Frewin Awards for Newspaper of the Year and Front Page of the Year, and FCJ Photographer of the Year, among other honours.

Related Articles

Back to top button